DIE EERSTE ALGEMENE BRIEF VAN DIE
APOSTEL JOHANNES
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
DAT die apostel en evangelis Johannes, die seun van Sebedéüs en broer van Jakobus, Matt. 10:2, die dissipel vir wie die Here liefgehad het, Joh. 13:23, hierdie brief geskryf het, is nooit onder die Christene in twyfel getrek nie. Die voorneme en oogmerk wat die apostel in hierdie brief het, is, soos hy dit self aanwys, hfst. 3:23, deels om die gelowiges in die waarheid van die evangeliese leer te versterk; en deels om hulle tot ’n godsalige lewe te vermaan en in die besonder tot betragting van liefde. Beide hierdie dele word só ineengeweef met mekaar behandel dat hy nou oor die een deel en dan oor die ander deel skryf. En deur eers die sekerheid en nuttigheid van die Christelike leer voor te stel, toon hy aan dat hy dit aan hulle voorhou, sodat hulle gemeenskap met God mag hê, wat CHRISTUS met sy bloed vir ons verwerf het en wat ons verkry as ons, terwyl ons ons sondes erken, in Hom glo en in die lig wandel, hfst. 1. Hy verklaar dat hy dit nie leer sodat ons daarop sou sondig nie, maar tot troos van die sondaars. Vermaan hulle tot onderhouding van die gebod van die liefde, sowel oues as jonges; vermaan hulle om af te sien van die liefde van die wêreld. Waarsku teen die antichriste of valse leraars en vermaan hulle om hul nie deur hulle te laat verlei nie, hfst. 2. Omdat hulle kinders van God is, vermaan hy hulle verder dat hulle heilig moet lewe en die sonde moet ontvlug; en vernaamlik om mekaar lief te hê, nie net met woorde nie, maar met die daad, hfst. 3. Daarna vermaan hy hulle om op te pas vir die valse leraars; en weereens dat hulle mekaar moet liefhê, hfst. 4. Leer wie diegene is wat uit God gebore is, en dat die liefde tot God en die naaste nie van mekaar geskei kan word nie, en bewys dat JESUS CHRISTUS die enigste Saligmaker is, en dat ons in Hom moet glo en vir die afgode moet vlug, hfst. 5.