DIE EERSTE BRIEF VAN DIE APOSTEL
PAULUS AAN DIE KORINTHIËRS
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
NADAT die apostel in Korinthe, die hoofstad van Acháje, in opdrag van CHRISTUS, omtrent anderhalf jaar gebly het en daar ’n groot gemeente gestig het, Hand. 18:9-11, het hy van daar af verder getrek om CHRISTUS ook in ander stede van Asië te verkondig, en is nou ná ’n aansienlike tyd in Éfese, soos blyk uit 1 Kor. 16:8; daar het hy van sommige van die huisgenote van Chloë verstaan, 1 Kor. 1:11, dat daar twiste in die gemeente ontstaan het. Het ook van die Korinthiërs self ’n brief ontvang, 1 Kor. 7:1, waarin hulle raad van die apostel gevra het oor sekere swarighede wat in hul gemeente verrys het; waarop hy in hierdie brief antwoord. Eerstens dan, ná ’n kort inleiding in die eerste nege verse van hierdie brief, vermaan hy hulle, in die res van die eerste en in die drie volgende hoofstukke, oor die onenigheid wat onder hulle ontstaan het, in die besonder deur die hoogmoed en die kieskeurigheid van enkele leraars, wat met hul welsprekendheid en menslike filosofie gespog het en die eenvoud van die evangelie verbaster en in Paulus verag het. Daarna bestraf hy hulle in die 5de hfst. omdat hulle iemand wat bloedskande gepleeg het in hulle gemeente geduld het; en skryf hulle voor hoe hul die kerklike tug aan hom en aan ander broeders wat aanstoot gee moet toepas. In die 6de hfst. vermaan hy hulle, dat hulle die geskille wat hul oor wêreldse sake onder mekaar gehad het, nie voor die ongelowige owerheid moet bring nie, maar dat hulle dit onder mekaar vriendelik moet afhandel; en vermaan hulle oor die hoerery, wat nog onder hulle gepleeg was. In die 7de hfst. begin hy om die vrae te beantwoord wat hulle skriftelik aan hom voorgelê het, en eers aangaande die staat van maagdelikheid en weduweeskap, en die huwelik. Daarna in die 8ste hfst. handel hy oor die dinge wat aan die afgode geoffer was. In die 9de hfst. oor die onderhoud van die kerkdienaars. In die 10de hfst. weer oor die wegvlug van die afgodery en die afgodsoffer. In die 11de hfst. vermaan hy enkele misbruike wat in hulle samekomste, in die kleding van die vroue en in die gebruik van die nagmaal ingesluip het; en rig dit ooreenkomstig CHRISTUS se instelling. In die 12de, 13de en 14de hfst. spreek hy oor die regte gebruik van die geestelike gawes, wat die Heilige Gees in verskeidenheid onder die gemeente uitgedeel het, en in die besonder oor die gawe van profesie en van vreemde tale. In die 15de hfst. handel hy oor die sekerheid van die opstanding uit die dode, en verklaar breedvoerig hoe dit sal plaasvind. En nadat hy in die begin van die 16de hfst. gespreek het oor die handreiking wat die Griekse gemeentes vir die arm gelowiges in Judéa bymekaargemaak het, sluit hy hierdie brief af met enkele vermanings en groete aan hulle.