DIE EERSTE BRIEF VAN DIE APOSTEL
PAULUS AAN DIE THESSALONICENSE
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
NADAT die apostel Paulus in Thessaloníka, die hoofstad van Macedónië, te midde van groot lewensgevaar, ’n voorbeeldige gemeente gestig het, moes hy vanweë die vervolging van die Jode wat daar gewoon en die leeglopers opgesteek het, vlug saam met Silas en Timótheüs na Beréa, en van daar na Athéne, terwyl hy Timótheüs en Silas in Beréa agtergelaat het, soos dit breedvoeriger beskryf word in Handelinge 17. Toe, nadat Timótheüs en Silas ook in Athéne gekom het, het Paulus wat bekommerd was oor die brose gemeente van Thessaloníka, Timótheüs daarheen gestuur om hulle te versterk; en toe Timótheüs nou van Thessaloníka af na Paulus in Korinthe teruggekeer het en hy deur hom ingelig was oor die gemeente se toestand, het hy dit goedgedink om hierdie brief aan haar te skryf, soos hy in die begin van die 3de hfst. verklaar. Hierdie brief bevat, ná die apostoliese opskrif, in die besonder twee dele. In die eerste deel versterk hy hulle in die geloof wat hulle aangeneem het tot die einde van die 3de hfst., en dit doen hy in die besonder deur ’n beskrywing van die volgende vier dinge: In die 1ste hfst. getuig hy, met ’n danksegging daaroor tot God, met watter ywer en erns hulle die geloof in CHRISTUS aangeneem het en van die afgode tot God bekeer is. In die 2de hfst. stel hy hulle sy vrymoedigheid, opregtheid, ywer en wandel voor oë, sodat hy hulle in alles ’n goeie voorbeeld sou gee, en dit doen hy tot die 14de vers. In die volgende verse beskryf hy die verdrukkinge wat hulle, sowel as hy, deur die Jode en hul ander landsgenote met lydsaamheid verdra het, tot die 17de vers, van waar hy verder tot die einde van die 3de hfst. met baie ernstige woorde die groot begeerte wat hy gehad het om hulle weer te sien, betuig, en om meer en meer te vervul wat in hulle geloof ontbreek het, vir welke doel hy ook Timótheüs gestuur het. Daarna kom hy in die begin van die 4de hfst. tot die tweede deel van die brief, naamlik die vermanings tot ’n Christelike lewenswandel en verskillende deugde, wat hy beskryf tot die 13de vers toe. Van daar af verder handel hy oor die matiging van die droefheid oor hul dooies, en beskryf by dié geleentheid in breë trekke die heerlikheid van CHRISTUS se koms om te oordeel en die volgorde van die opstanding van die dode, hoewel die tyd en uur daarvan onseker is; tot die 4de vers van die 5de hfst. Van daar af tot die einde van die brief keer hy terug tot verskillende vermaninge, en in die besonder om altyd wakker en op hul hoede te wees, hul leraars in eer te hou, gedurig te bid, ens., en sluit so die brief af met ’n gebed vir hulle tot God, die gewone groet, en ’n beswering dat hulle hierdie brief aan al die broeders sal laat voorlees.