Statevertaling – Bybelstigting

1 Timótheüs

DIE EERSTE BRIEF VAN DIE APOSTEL

PAULUS AAN TIMÓTHEÜS

Spring na die lys van die boek name

INHOUD VAN HIERDIE BRIEF.

TOE Paulus vanaf Éfese na Macedónië gereis het, Hand. 20:1, nadat hy Timótheüs in Éfese agtergelaat het om oor hierdie gemeente, wat die vernaamste van Asië was, vir ’n tyd opsig uit te oefen, soos hy in die derde vers van die eerste hfst. getuig, so het hy hierdie brief op die weg, of, soos sommige meen, uit Filíppi, aan hom geskryf; waarin hy hom en deur hom ook alle troue leraars onderrig en ’n blywende opdrag gee, hoe hulle hul in hierdie diens moet gedra en waarvolgens hulle alles in die regering van die gemeente moet rig, soos hy in hfst. 3:15 getuig. In die eerste hfst. dan, ná die gebruiklike apostoliese groet, waarsku hy hom, dat hy nie moet toelaat dat enige vreemde of ydele leringe deur iemand ingevoer sou word nie. En wys daarop hoe die wet self wettiglik geleer en gebruik moet word, tot in die elfde vers. Van waar hy verder tot die einde van die hfst. ’n kort samevatting van die evangelie, wat aan hom toevertrou was, in sy eie voorbeeld voorstel en Timótheüs beveel om daarby te bly, en alle weersprekers te weerstaan, soos hy self met Himenéüs en Alexander gedoen het. In die tweede hfst. vermaan hy hom, dat daar openlik in die gemeente gebid moet word vir konings en almal wat hooggeplaas is, en gee ’n algemene reël waarvolgens die manne sowel as die vroue hulle in die openbare byeenkomste moet gedra. In die derde hfst. stel hy die reëls voor, waarvolgens die beroeping van kerkdienaars en diakens gedoen moet word. In die vierde hfst. kondig hy vooruit aan dat sommige in die laaste dae van die geloof afvallig sal word, deur te verbied om te trou en sekere voedsel te gebruik, wat God geskape het; en vermaan hom tot standvastigheid in die ware leer, met beoefening van die ware godsaligheid, wat vir alles nuttig is; en deur aan te hou met die voorlesing en die aanwakkering van die gawes wat in hom is. In die vyfde hfst. skryf hy aan hom voor, hoe hy die vermaninge moet rig teenoor oues en jonges, teenoor manne en vroue, en gee in die besonder voorskrifte aangaande die weduwees, wat tot die diens aan die armes in die gemeente aangeneem word, en met watter agting die ouderlinge wat goed regeer, bejeën moet word, met ’n betuiging voor God dat hy niemand die hande moet oplê, tensy hy goed beproef is nie. In die laaste hfst. vermaan hy die diensknegte wat gelowig is, tot hul verskuldigde plig; verwerp weer alle vreemde leringe en nuttelose praatjies, en beveel elkeen dat hy met die dinge wat aan hom toevertrou is, vergenoegd moet wees; vermaan die rykes tot nederigheid en weldadigheid en sluit die brief af met ’n ernstige vermaning om van alle nuwigheid en ydelheid in die leer weg te vlug.