DIE TWEEDE ALGEMENE BRIEF VAN DIE
APOSTEL PETRUS
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
HOEWEL daar vroeër deur sommige oor die outeur en die gesag van hierdie brief getwyfel is, soos te sien is Eusebius, Kerklike Geskiedenisse, is daar nogtans, omdat die opskrif die naam Simeon Petrus dra en die outeur in hfst. 1:18 verklaar dat hy een van die drie dissipels van CHRISTUS was wat sy heerlikheid op die berg gesien het, en vernaamlik omdat die leer wat in hierdie brief voorgehou word, geheel en al met die voorgaande brief van Petrus en met die Skrifte van die ander apostels ooreenkom, geen rede om oor een van beide te twyfel nie; en die Christelike kerk het hierdie brief ook as ’n goddelike geskrif erken. Die apostel Petrus skryf dus hierdie tweede brief aan dieselfde gelowige verstrooide Jode aan wie hy die eerste brief geskryf het, soos blyk uit hfst. 3:1. Die rede waarom hy hierdie tweede brief nog aan hulle skryf, gee hy in hfst. 1:12, 13, ens. Hierdie brief bestaan hoofsaaklik uit drie dele, ooreenkomstig die getal hoofstukke. In die eerste deel, ná die opskrif en die groet, beskryf hy die genade en geestelike weldade wat God aan hulle bewys het tot hul saligheid, en vermaan hy hulle om meer en meer daarin toe te neem en die een Christelike deug by die ander te wil voeg, om daardeur des te meer van hul verkiesing verseker te word, terwyl hy die rede aandui waarom hy hierdie vermaning nogmaals tot hulle rig en dat hulle dit behoort aan te neem, omdat hy self CHRISTUS se heerlikheid op die berg gesien het en sy leer ook met die leer van die heilige en deur God se Gees gedrewe profete ooreenkom, hfst. 1. In die tweede deel vermaan hy hulle tot standvastigheid in die Christelike leer, wat hulle van die apostels ontvang het, om nie daarvan weggelei te word deur die valse leraars nie, wat reeds opgestaan het en nog meer sou opstaan; terwyl hy die verderf aandui waarin hulle hulself en diegene wat hulle laat verlei, sekerlik sal stort; en hy beskryf hulle optrede en verkeerde wandel, sodat hulle des te beter daaraan geken en vermy sou mag word, hfst. 2. In die derde deel waarsku hy hulle vir die spotters en Epikureërs, wat die koms van CHRISTUS om te oordeel asook die ondergang van die wêreld loën, teen wie hy die sekerheid van hierdie koms van CHRISTUS bewys, en hy beskryf hoedanig en hoe verskriklik die ondergang van die wêreld sal wees. En hy sluit uiteindelik die brief af met die getuienis van Paulus, met ’n ernstige herhaling van die vernaamste vermanings en met ’n lofsegging tot CHRISTUS, hfst. 3.