DIE TWEEDE BRIEF VAN DIE APOSTEL
PAULUS AAN TIMÓTHEÜS
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
TERWYL die apostel Paulus in Rome ’n gevangene is, hfst. 1:8, en nou sien dat die dood vir hom naby is, hfst. 4:6, het hy hierdie tweede brief aan Timótheüs, wat in Éfese was, geskryf, waarin hy hom ná sy gewone groet smeek dat hy so spoedig moontlik na hom toe sou kom, terwyl hy verklaar hoe baie hy na hom verlang, vanweë sy uitnemende godsaligheid, waarin hy deur sy grootmoeder en moeder van kindsbeen af opgevoed was; en vermaan hom ernstig dat hy sy gawes goed moet gebruik, en nie vrees om die troosryke en voortreflike leer van die heilige evangelie met vrymoedigheid te verbrei nie, volgens sy voorbeeld; des te meer omdat almal wat in Asië is, hom verlaat het, behalwe Onesíforus, wat baie bystand aan hom verleen het, hfst. 1. Dat hy ook tot uitbreiding van hierdie leer ander getroue en bekwame manne tot hierdie amp sou wil aanbeveel, en vernaamlik die leerstuk van die opstanding van CHRISTUS bevestig; troos hom teen die verdrukkinge, sowel met sy eie voorbeeld, as met God se genadige vergelding; vermaan hom om van alle twisgesprekke weg te vlug, en waarsku hom vir die ketters, vernaamlik vir Himenéüs en Filétus, wat die opstanding van die dode geloën het, met ’n vermaning tot verskillende Christelike deugde, hfst. 2. En om hom tot meer waaksaamheid op te wek, kondig hy vooruit aan hoedanige mense daar in die laaste dae sal wees en hoe hulle die waarheid sal teëstaan, terwyl hy hom vermaan om sy voorbeeld te volg en om standvastig te bly in die leer wat hy by hom geleer het, soos dit ooreenkom met die Heilige Skrif, waarvan hy die sekerheid en nuttigheid verklaar, hfst. 3. Uiteindelik omdat hy weet dat hy binnekort doodgemaak sou word, vermaan hy hom baie ernstig om sy amp met ywer en getrouheid te bedien en nog voor die winter na hom toe te kom, des te meer omdat hulle almal hom in sy verdediging verlaat het; en sluit af met die gewone groet, hfst. 4.