Statevertaling – Bybelstigting

Efésiërs

DIE BRIEF VAN DIE APOSTEL PAULUS

AAN DIE EFÉSIËRS

Spring na die lys van die boek name

INHOUD VAN HIERDIE BRIEF.

OMDAT die apostel Paulus in Éfese, wat die hoofstad van Klein-Asië was, die eerste keer gepreek het, Hand. 18:19, en daarna daarheen teruggekeer en die evangelie vir drie jaar lank in dié stad en sy omgewing bevestig en verbrei het, soos te sien is in Handelinge 19 en 20:31, en in dié tyd ’n voorbeeldige gemeente daar gestig het, wie se leraars en ouderlinge hy in sy laaste reis na Jerusalem byeengeroep en gewaarsku het vir diegene wat verkeerde leringe sou probeer invoer om die dissipels van CHRISTUS agter hulle aan te trek, Hand. 20:29, ens., daarom het hy daarna, toe hy in Rome ’n gevangene was, Ef. 3:1; 6:20, dit nodig geag om hulle in die waarheid wat hulle aangeneem het deur hierdie brief te versterk, in die besonder teen diegene wat die genade van JESUS CHRISTUS benadeel het. Daarom beskryf hy, ná die apostoliese groet, wat vervat is in die eerste twee verse van die 1ste hfst., op ’n baie verhewe skryfwyse al die weldade wat die gelowiges, volgens God se ewige voorneme in CHRISTUS, ook in daardie tyd ontvang het, tot die 15de vers van dieselfde hfst., en voeg daarby in die oorgeblewe deel van die hfst. ’n ernstige gebed tot God, dat hulle in die erkenning van hierdie groot genade en van die kragtige werking van CHRISTUS, wat nou in heerlikheid aan die regterhand van sy Vader sit, meer en meer versterk mag word. Hy stel hulle verder in die 2de hfst. die ellendige staat voor oë waarin hulle tevore as heidene was, buite die verbond van God en sonder hoop van die saligheid, en verklaar dat hulle slegs deur die dood van CHRISTUS daarvan verlos is en slegs deur die geloof in CHRISTUS, wat die middelmuur van die wet weggeneem het, nou mede-erfgename van die verbond geword het. In die 3de hfst. verhef hy die verborgenheid van hierdie leer van die roeping van die heidene, sonder om aan die seremonies verbonde te wees, tot die gemeenskap van CHRISTUS; en getuig dat dit in ander tye verswyg was, maar nou deur die profete en apostels so duidelik geopenbaar is, dat ook die engele in die hemel hulle daaroor verwonder, tot die 14de vers toe, en bid daarom opnuut, tot die einde van die hfst., dat hulle met die krag van die Gees van God versterk mag word om hierdie genade van CHRISTUS meer en meer in hulle te ervaar. In die 4de hfst. en verder stel hy enkele algemene vermanings tot ’n Christelike wandel, en hy vermaan hulle veral tot eenheid en standvastigheid in hierdie leer. Om hierdie eenheid teen alle dwalinge te bevorder, het CHRISTUS, wat nou na die hemel opgevaar het, verskeie ampte in sy gemeente verordineer; en dié beskryf hy tot die 17de vers toe. Van daar af verder tot die 22ste vers van die 5de hfst. vermaan hy hulle om die oue mens met al sy slegte begeertes af te lê en om hulle met die nuwe mens met al sy deugde te beklee. Van waar hy by die besondere pligte kom; en eerste van vrou en man in die huwelik, wat hy verklaar met die voorbeeld van CHRISTUS en sy gemeente, tot die einde van die 5de hfst.; daarna van kinders en ouers, asook van diensknegte en here, tot die 10de vers van die 6de hfst., en wapen hulle uiteindelik met die volle wapenrusting van God, deur hulle te vermaan om te waak in die gebed, nie net vir hulleself nie, maar ook vir alle heiliges, en in die besonder vir hom in sy boeie, waaroor Tíchikus, wat hierdie brief gebring het, hulle meer duidelikheid sou gee. Waarna hy die brief afsluit in die laaste twee verse met ’n wens van vrede en genade, en van geloof en liefde.