Statevertaling – Bybelstigting

Galásiërs

DIE BRIEF VAN DIE APOSTEL PAULUS

AAN DIE GALÁSIËRS

Spring na die lys van die boek name

INHOUD VAN HIERDIE BRIEF.

OMDAT die gemeentes van Galásië, wat deur die apostel deur die verkondiging van die evangelie gestig was, Hand. 16:6, ens.; 18:23, ens., hulle van die suiwerheid van die leer laat weglei het deur enkele valse apostels, wat geleer het dat die seremoniële wet, en vernaamlik die besnydenis, nog onderhou moes word en bowendien dat die mens voor God geregverdig word, nie net deur die geloof nie, maar ook deur die werke van die wet; so het die apostel, saam met die broeders wat by hom was, dit nodig geag om hulle deur hierdie brief daaroor te bestraf en in die waarheid van die evangelie teen sodanige dwalings te versterk. Vir welke doel hy, ná die opskrif, wat vervat is in die eerste vyf verse van hfst. 1, met verskeie redes bewys dat hulle hul nie behoort te laat weglei van die leer wat hy aan hulle verkondig het nie, omdat daar geen ander evangelie tot saligheid verkondig kan word nie en dat hy dit nie van mense nie, maar uit die hemel van CHRISTUS self ontvang het, wat hy bewys met ’n beskrywing van sy eerste staat in die Jodedom en van sy wonderbaarlike bekering en roeping; die rede waarom hy ook met niemand van die apostels daaroor gespreek het nie, maar onmiddellik na Arabië vertrek het. Getuig dat die vernaamste apostels daarna aan hom die hand van gemeenskap gegee het, as ’n teken van eenheid in die leer en die diens; dat hy ook selfs die apostel Petrus bestraf het, toe hy ter wille van enkele Jode nie gedurf het om by die gebruik van die Christelike vryheid te bly nie, hfst. 1, en hfst. 2 tot vers 15. Bewys daarna teen die leer van die valse apostels, met baie kragtige redevoeringe en voorbeelde uit die Heilige Skrif, dat die mens voor God geregverdig word alleen deur die geloof in JESUS CHRISTUS en nie deur die werke van die wet, van die wet van die tien gebooie, óf van die seremoniële wet, nie, wat hy leer in die Nuwe Testament tot ’n einde gekom het; met weerlegging van die vernaamste teëwerpinge van die valse apostels, vanaf die 15de vers van die 2de hfst. tot die einde van die 4de hfst. Waarby hy ’n ernstige vermaning tot die Galásiërs rig, om in die Christelike vryheid te bly, maar dat hulle dit nie moet misbruik tot sorgeloosheid van die vlees nie. En verder vermaan hy hulle om die werke van die vlees af te lê en die vrugte van die Gees voort te bring, hfst. 5, en vernaamlik van die werke van die liefde en van die weldadigheid, sowel aan die arm gelowiges, as aan die dienaars van die Woord. En daarna sluit hy af met ’n ernstige waarskuwing teen die valse apostels, wie se gierigheid en geveinsdheid hy vir dié doel beskryf, en betuig daarenteen sy opregtheid, hfst. 6.