1DIE HANDELINGE VAN DIE HEILIGE
APOSTELS DEUR 2LUKAS BESKRYWE
Spring na die lys van die boek name1 Dit is, die geskiedenis van dit wat die heilige apostels ná die hemelvaart van Christus gedoen het, deur die evangelie oor die hele wêreld te verkondig, en oral, uit Jode en heidene, gemeentes te vergader.
2 Dat hierdie boek deur die evangelis Lukas geskryf is, blyk uit die eerste vers van die eerste hfst., en daaraan is nooit deur enige kerkvaders of latere verklaarders getwyfel nie.
INHOUD VAN HIERDIE BOEK.
SOOS die vier evangeliste in hul Evangelies die geboorte, die lewe, die lyding, die dood, die opstanding en die hemelvaart van die Here JESUS CHRISTUS beskryf, so word in hierdie boek verder beskryf hoe CHRISTUS se apostels ná sy hemelvaart die evangeliese leer oral oor die wêreld verbrei, en uit Jode en heidene die gemeente vergader het; en in die besonder word beskryf wat die twee belangrikste apostels, Petrus en Paulus, vir dié doel gedoen het.
Ná die voorrede beskryf Lukas dus wanneer en hoe CHRISTUS na die hemel opgevaar het; en dat Matthías deur die lot in die plek van die verraaier Judas, wat homself opgehang het, tot ’n apostel verkies is, hfst. 1. Daarna hoe die Heilige Gees in die gedaante van vurige, verdeelde tonge met ’n sterk rukwind oor die apostels gekom het en dat hulle in verskillende tale gespreek het; waaroor sommige gelaster het deur te sê dat hulle vol soet wyn was; waarteen Petrus hulle met groot vrymoedigheid verantwoord en leer dat dit gebeur het volgens die voorsegginge van die profete, en bewys uit die psalms dat CHRISTUS uit die dood moes opstaan en na die hemel opvaar; waardeur omtrent drieduisend tot bekering gekom het en gedoop is. Beskryf ook die staat van die eerste kerk, hfst. 2. Dat Petrus en Johannes ’n man wat van geboorte af kreupel was en by die poort van die tempel gesit het, genees het; waaroor Petrus die volk, toe hulle hul hieroor verwonder het, onderrig het, dat dit gebeur het deur die krag van CHRISTUS, wat hulle vermoor het; en hy hulle vermaan om hulle te bekeer en in Hom te glo, hfst. 3. Dat die priesters en Sadduseërs Petrus en Johannes daaroor gevange geneem en voor die Raad gestel het, voor wie Petrus hul daad verantwoord het, waaroor hulle hul verwonder het en hulle gelas het om nie meer in die Naam van CHRISTUS te preek nie, wat hulle weier om te doen; dat die gemeente vir hulle bid, wie se onderlinge eenheid en liefde beskryf word, sodat hulle tot onderhoud van die armes ook hul huise en grond verkoop het, hfst. 4. Wat Ananías en Saffíra, sy vrou, ook huigelagtig gedoen het, en ’n deel van die geld agtergehou het, en deur Petrus met ’n skielike dood daarvoor gestraf word; dat deur die apostels baie wonderwerke, vernaamlik in die genesing van siekes, gedoen was; waaroor die hoëpriester en die Sadduseërs hulle in die gevangenis gegooi het, waaruit hulle deur ’n engel verlos word en in die tempel preek; dit word aan die hoëpriester vertel en nadat hy hulle voor die Raad laat bring en bestraf het, wou hulle hul doodmaak, maar dit word hulle deur Gamáliël afgeraai, waarna die apostels met géselslae losgelaat word en met die verbod om nie meer te preek nie, wat hulle nie nakom nie, hfst 5. Dat tot verligting van die apostels, aangesien die Griekssprekende Jode gekla het, sewe diakens verkies is om die tafels en die armes te bedien, onder wie Stéfanus een was, wat, omdat hy groot wonderwerke gedoen het en die wat met hom geredetwis het hom nie kon weerstaan nie, voor die Raad beskuldig word met valse getuies dat hy godslasterlik teen die wet gespreek het, hfst. 6. Dat Stéfanus hom voor die Raad verantwoord het, deur kortliks die geskiedenisse van die Ou Testament te verhaal, van Abraham af tot Salomo toe, en hulle te bestraf oor hul hardnekkigheid; waaroor hulle hom tot die dood toe stenig, hfst. 7. Dat teen die gemeente van Jerusalem ’n groot vervolging ontstaan het, waarom baie na Samaría vlug, waar Filippus die evangelie verkondig en baie wonders doen, waardeur baie tot bekering kom en gedoop word; waarom die apostels vir Petrus en Johannes na hulle toe stuur, sodat hulle die Heilige Gees mag ontvang; dat Simon, die towenaar, daar ook gedoop is, en die gawes van die Heilige Gees met geld van Petrus probeer koop, wat dit weier en sy geveinsdheid openbaar en bestraf; dat die hofdienaar van die koningin Kandacé van Ethiópië deur Filippus bekeer en gedoop word, hfst. 8. Dat Saulus die gemeente vervolg; en op die pad na Damaskus deur ’n gesig bekeer word en drie dae lank met blindheid geslaan word, deur Ananías gedoop en tot ’n apostel van CHRISTUS geroep word; in Damaskus die evangelie verkondig, waar die Jode beplan het om hom dood te maak, aan wie hy ontkom het en in ’n mandjie oor die stadsmuur neergelaat is; dat die kerke in Judéa, Galiléa en Samaría in ’n goeie toestand was en sterk gegroei het; dat Petrus ene Enéas in Lidda van sy verlamming genees het, en in Joppe ene Tabíta uit die dood opgewek het, hfst. 9. Dat Petrus ontbied word deur ’n hoofman met die naam Cornelius, en toe hy getwyfel het of hy by ’n heidense man sou mag kom, hy deur ’n goddelike gesig uit die hemel onderrig en versterk is; hoe hy deur hom ontvang is en hom saam met sy vriende deur ’n treffende preek tot CHRISTUS bekeer het, hfst. 10. Dat Petrus, toe sommige hom dit kwalik geneem het, die hele saak verhaal het en hulle daarmee tevrede gestel het; dat deur die verstrooides tot in Fenícië, Ciprus en Antiochíë toe die gemeente uitgebrei is en Bárnabas na Antiochíë gestuur word om die gelowiges te versterk, waar Ágabus die hongersnood vooruit aankondig wat daarna onder keiser Claudius gekom het; waarom hulle besluit om hulp te stuur na die gelowige armes in Judéa deur Paulus en Bárnabas, wat, nadat hulle dit gedoen het, na Antiochíë terugkeer, waar die gelowiges vir die eerste keer Christene genoem word, hfst. 11. Dat Herodes Agríppa Jakobus, die broer van Johannes, onthoof het en Petrus in die gevangenis gegooi het om hom ook te laat doodmaak, waaruit hy deur ’n engel van die Here verlos is en by die gelowiges kom, wat by die huis van die moeder van Johannes Markus vergader was; dat Herodes die soldate wat Petrus bewaak het, laat ombring het; dat Herodes in Cesaréa, toe hy die volk met ’n groot vertoon toegespreek het en deur hulle as ’n god beskou is, deur ’n engel getref is, sodat hy deur die wurms verteer is en gesterwe het, hfst. 12. Dat die Heilige Gees opdrag gee om Paulus en Barnabas na die heidene te stuur, en dat hulle ná oplegging van die hande na Ciprus gereis het, waar hulle in die sinagoges van die Jode preek, en Paulus die towenaar Élimas, wat by die goewerneur Sérgius Paulus was, ernstig bestraf en met blindheid slaan, welke goewerneur tot die geloof bekeer word; dat Paulus in Antiochíë in Pisídië in die sinagoge van die Jode ’n treffende preek gelewer het, waarin die hoofsom van die Christelike leer vervat is, waardeur baie heidene tot bekering gekom het, maar die Jode, wat enkele vroue opgehits het, het hulle buite hul gebied verdryf, hfst. 13. Dat Paulus en Bárnabas vir ’n tyd lank in Ikónium gepreek het, en dat, toe daaroor ’n skeuring in die stad ontstaan het en mense hulle leed wou aandoen, hulle gevlug het na Listre, waar Paulus ’n kreupel man genees; waaroor dié van Listre aan hulle soos aan gode ’n offer wou bring, wat die apostels verhinder het; en daarna het die skare, toe hulle aangehits is, Paulus gestenig, wat, toe hy weer bygekom het, saam met Bárnabas na Derbe vertrek en daarna terugkeer na Listre, Ikónium en Antiochíë, waar hulle beskryf wat God deur hulle gedoen het, hfst. 14. En omdat daar sommige uit Judéa gekom en geleer het dat die seremoniële wet nog onderhou moes word, en daaroor ’n groot twis ontstaan het, dit goedgevind is om hierdie saak aan die oordeel van die apostels en ouderlinge in Jerusalem voor te lê; sodat Paulus en Bárnabas saam met enkele ander daarheen gestuur is, en nadat hulle hul opdrag bekendgemaak het, het ’n sinode van apostels en ouderlinge daaroor vergader, waarin, nadat Petrus, Paulus en Bárnabas hul verklarings gegee het, Jakobus sy mening gestel het, wat deur al die ander aanvaar is, goedgevind is om die besluit van hierdie sinode per brief na Antiochíë en ander kerke te stuur, deur Paulus, Bárnabas, Judas en Silas; en toe Paulus en Bárnabas die gemeentes wou gaan besoek, daar tussen hulle ’n verbittering ontstaan het oor Johannes Markus, sodat hulle van mekaar geskei het en Paulus na Sírië en Cilícië gereis het, hfst. 15. Dat Paulus Timótheüs ter wille van die Jode laat besny en saam met hom vanaf Derbe en Listre deur die stede gereis het, en dat die kerke daagliks toegeneem het; dat hulle deur Mísië na Troas gereis het, waar Paulus in ’n gesig vermaan word om na Macedónië te vertrek en in Filíppi aangekom het, waar hy Lídia, die purperverkoopster, tot bekering lei, wat saam met haar huisgesin gedoop word; dat hy daar ’n waarsêende gees uit ’n slavin uitdryf, wie se eienaars die volk daaroor teen hulle opgesteek het, wat hulle laat gésel en in die gevangenis laat gooi het, wat, toe hulle gebid en lofsange gesing het, deur ’n aardbewing geopen word, waardeur die tronkbewaarder bekeer en saam met sy huisgesin gedoop word; dat die owerstes van die stad hulle beveel het dat hulle uit die stad moet gaan, wat Paulus nie wou doen nie, tensy hulle self hul uit die gevangenis kom haal, wat inderdaad gebeur het, hfst. 16. Dat hulle van daar af na Thessaloníka vertrek het, waar hulle preek en sommige bekeer; maar die Jode bring die volk teen hulle in oproer en sleep Jason voor die owerheid; daarom vertrek hulle van daar af na Beréa, waar hulle ook preek, en die mense van Beréa ondersoek die Skrifte, om vas te stel of hul prediking daarmee ooreengekom het. Dat Paulus van daar af gereis het na Athéne, waar hy, toe hy voor die raad gebring is, met die wysgere redetwis, en aan hulle bewys dat daar slegs een ware God is, wat ons almal geskape het, en wie hy verkondig het; en dat daar ’n algemene oordeel en ’n opstanding van die dode sal wees; waarmee hulle gespot het; maar sommige het geglo, onder wie Dionísius, die Areopagiet, en Dámaris, hfst. 17. Dat Paulus van daar af in Korinthe gekom het, waar hy Áquila en Priscílla vind, by wie hy tuis gegaan en in die sinagoge gepreek het; waarteen die Jode hulle gestel het en hom voor die regterstoel van goewerneur Gállio gebring het, wat nie oor die godsdienstige geskille wil oordeel nie; dat hy van daar af vertrek het na Sírië, nadat hy sy hoof in Kenchréë laat skeer het, in Éfese kom en van daar af vertrek deur Cesaréa na Jerusalem en verder na Antiochíë, en nadat hy ’n kort tydjie daar vertoef het, na Galásië en Frígië; dat ene Apollos in Éfese die Jode kragtig oortuig het dat JESUS die CHRISTUS was, hfst. 18. Dat Paulus ook in Éfese gekom het, daar enkele dissipels gevind het, en omdat hulle nog nie die gawes van die Heilige Gees ontvang het nie en ook nie daarvan geweet het nie, het hulle dit ná sy handoplegging ontvang; dat hy daar in die skool van Tiránnus twee jaar geleer en baie siekes genees het; dat hy ’n bose gees uitdryf, wat sommige duiwelbesweerders beseer en hul klere afskeur; dat baie hul toorboeke, wat baie werd was, verbrand het; dat Paulus hom voorneem om na Jerusalem te reis; dat in Éfese teen hom ’n groot oproer verwek word deur ene Demétrius en ander silwersmede, omdat hul verdienste, wat hulle gehad het deur die maak van klein silwertempeltjies van Diana, deur sy leer verminder het; die oproer word deur die stadsklerk tot bedaring gebring, hfst. 19. Dat Paulus saam met ’n geselskap deur Macedónië na Troas gereis het en dat, toe hy daar voor sy vertrek ’n lang preek gehou het, ’n jongman met die naam Eútichus uit die venster doodgeval het, en nadat Paulus op hom geval en sy arms om hom geslaan het, weer lewend geword het; dat hy oor Assus, Mitiléne, Samos en Trogíllion in Miléte gekom het, waar hy die ouderlinge en opsieners van die gemeente van Éfese by hom laat kom het, van wie hy afskeid neem, terwyl hy hulle ernstig vermaan om goed op die gemeente ag te gee, omdat daar ná sy vertrek baie valse leraars sou opstaan, hfst. 20. Dat hy van daar af oor Kos, Rhodus en Pátara na Tirus in Fenícië gereis het, en van daar af na Ptolemáis en verder na Cesaréa, waar die profeet Ágabus in die huis van Filippus aan Paulus vooruit aankondig dat hy in Jerusalem gevang en gebind sou word; waaroor die gelowiges hom gesmeek het dat hy nie na Jerusalem moes opgaan nie; wat Paulus van die hand wys en voortreis na Jerusalem; waar hy in die huis van Jakobus gekom het, in teenwoordigheid van die ouderlinge beskryf wat God deur hom onder die heidene gedoen het; dat Jakobus hom aanraai om hom ter wille van die swak Jode volgens die bestaande gebruike te heilig, wat hy doen; dat sommige Jode uit Asië die hele stad in oproer teen hom bring en hom wou doodmaak, indien die owerste hom nie met geweld aan hulle ontruk en in die kamp gebring het nie, en hom, nadat hy hom ondervra het, toelaat om voor die volk sy verantwoording te doen, hfst. 21. Waarin hy sy hele lewe en optrede, en vernaamlik sy bekering en roeping om aan die heidene die evangelie te verkondig, verhaal. Waarop die Jode des te meer geroep en geskreeu het, sodat die owerste hom wou laat gésel, maar omdat hy van Paulus verstaan het dat hy ’n burger van Rome was, het hy daarvan afgesien, en die hele Joodse Raad in die kamp laat kom om hom te hoor, hfst. 22. Voor wie Paulus sy verantwoording begin, en op bevel van die hoëpriester Ananías in die gesig geslaan word; waaroor Paulus hom skerp bestraf en verklaar dat hy oor die opstanding van die dode voor die gereg gestel was; waaruit ’n groot twis en geroep ontstaan het tussen die regters, omdat sommige Fariseërs was en sommige Sadduseërs; dat meer as veertig Jode hulle met ’n eed verbind het om nie te eet of te drink voordat hulle Paulus doodgemaak het nie; wat deur die seun van Paulus se suster aan hom en aan die owerste bekendgemaak is; dat die owerste Claudius Lísias hom met ’n konvooi in die nag na Cesaréa gestuur het met ’n brief aan die goewerneur Felix, wat hom in die paleis van Herodes laat bewaak het, totdat sy beskuldigers gekom het, hfst. 23. Dat Ananías en die ouderlinge in Cesaréa gekom het om hom aan te kla, wat gedoen is deur die advokaat Tertúllus, wat hom van oproer en ontheiliging van die tempel beskuldig; dat Paulus beide hierdie sake ontken het, deur te verhaal wat gebeur het en waarom hy na Jerusalem gekom het; dat Felix die saak uitgestel het tot die koms van Lísias, terwyl hy hom meer vryheid in die gevangenis gee en dat hy hom dikwels by hom en sy vrou laat kom het om hom te hoor; dat hy so gevange gehou is totdat Festus in sy plek gekom het, hfst. 24. Dat die Jode, toe Festus in Jerusalem gekom het, by hom aangedring en gevra het dat Paulus in Jerusalem voor die gereg gestel sou mag word, wat hy weier en aan hulle opdrag gee om hom in Cesaréa voor hom te beskuldig. Dat hulle dit doen en Paulus hom verantwoord; en dat hy, toe Festus hom na Jerusalem wou stuur, hom op die keiser beroep. Dat koning Agríppa en Berníce begeer om hom te hoor, voor wie hy gestel word, hfst. 25. En hom verantwoord teen die beskuldigings van sy teëparty, deur te verhaal hoe hy die gemeente eers vervolg het, en hoe hy wonderbaarlik tot CHRISTUS bekeer is en daaroor beskuldig word; waaroor Festus hom bespot, en Agríppa verklaar dat hulle hom sou mag loslaat, as hy hom nie op die keiser beroep het nie, hfst. 26. Dat Paulus saam met enkele ander gevangenes aan die hoofman Július oorgelewer word om na Rome gebring te word; dat hulle vir dié doel op ’n skip gaan vanaf Adramíttium en na Sidon vaar, van daar af verby Ciprus tot by Mira, en oorklim op ’n skip van Alexandríë, verby Cnidus en Kreta tot by Mooi Hawens, waar Paulus waarsku om te oorwinter, maar die hoofman volg die raad van die stuurman en vaar verder, verby Kreta tot by Clauda, en daar ontstaan ’n groot storm, sodat hulle die vrag oorboord moet gooi; dat God deur ’n engel aan Paulus openbaar dat niemand sou vergaan nie, maar dat hulle op ’n eiland sou strand; waarom Paulus hulle vermaan om moed te hou; dat hulle vier ankers uitgooi en dat die matrose met die sleepbootjie wou ontvlug, wat Paulus verhinder; dat hulle die koring oorboord gooi en dat hulle, nadat hulle iets geëet het, naby land gekom het, waarop hulle die skip laat strand het; dat die soldate die gevangenes wou doodmaak, wat die hoofman verhinder; en dat hulle, omdat hulle skipbreuk gely het, na die land toe geswem het, hfst. 27. Dat hierdie land die eiland Melíte was en dat hulle deur die inwoners vriendelik ontvang is; dat ’n adder aan Paulus se hand vasgebyt het, wat hy sonder letsel afskud; dat Paulus die vader van Públius van koors en buikloop genees het, en ander siekes op daardie eiland; dat hulle ná drie maande van daar af verder vaar na Italië, oor Sirakúse, Régium, Putéoli en die Áppius-mark, en in Rome kom; waar Paulus aan die bevelhebber van die leër oorgelewer en deur ’n soldaat opgepas word; dat Paulus aan die Jode daar verklaar waarom hy as gevangene na Rome gestuur was; en dat hy met hulle oor die godsdiens gepraat en aan hulle bewys het dat JESUS die CHRISTUS was, wat sommige geglo het en ander nie; dat Paulus daar vir twee jaar in ’n gehuurde huis gebly en die evangelie met volle vrymoedigheid verkondig het, hfst. 28.
- Handelinge 1
- Handelinge 2
- Handelinge 3
- Handelinge 4
- Handelinge 5
- Handelinge 6
- Handelinge 7
- Handelinge 8
- Handelinge 9
- Handelinge 10
- Handelinge 11
- Handelinge 12
- Handelinge 13
- Handelinge 14
- Handelinge 15
- Handelinge 16
- Handelinge 17
- Handelinge 18
- Handelinge 19
- Handelinge 20
- Handelinge 21
- Handelinge 22
- Handelinge 23
- Handelinge 24
- Handelinge 25
- Handelinge 26
- Handelinge 27
- Handelinge 28