Statevertaling – Bybelstigting

Hebreërs

DIE 1BRIEF AAN DIE

2HEBREËRS

Spring na die lys van die boek name

1 Hoewel sommige oor die skrywer van hierdie brief getwyfel het en dit, of die vertaling daarvan uit Hebreeus, aan Bárnabas, enkele ander aan Lukas of Clemens toegeskryf het, het nogtans alle ou Griekse, en ook verskeie Latynse skrywers, hierdie brief met sekerheid as Paulus se brief erken, soos ook die meeste van die opskrifte van die Griekse Testament die titel Die brief van die apostel Paulus het. Die apostel Petrus, 2 Petr. 3:15, getuig ook dat die apostel Paulus aan die Jode, aan wie hy skryf, ook in sy wysheid geskryf het; wat van geen ander brief as hierdie een met enige waarskynlikheid verstaan kan word nie. Dit wil ook uit die vergelyking van Hebr. 13:19, 23 met 2 Tim. 4:16, 17, voorkom of hy hierdie brief uit Rome aan die Hebreërs geskryf het, toe hy ná sy eerste verantwoording voor keiser Nero die hoop op sy loslating ontvang het en toe gemeen het om spoedig weer na Jerusalem te kom om hulle saam met Timótheüs te besoek. Dit wil voorkom of die brief ’n voorbereiding is vir hierdie besoek.

2 Die apostel noem die Jode so, omdat hulle van Abraham, wat ’n Hebreër genoem word, Gén. 14:13, afkomstig was, soos hierdie naam ook graag deur hulle gehoor is; sien 2 Kor. 11:22. Filip. 3:5; waarom Paulus dit ook hier vir hulle gee. Sommige meen dat Paulus daarom die naam Hebreërs hier gebruik omdat hy vernaamlik en in die eerste plek aan die Jode skryf wat in Jerusalem en die omgewing gewoon het, wat in die besonder Hebreërs genoem word, omdat hulle die Hebreeuse of Siriese taal nog gebruik het, teenoor diegene wat onder die Grieke gewoon het, en daardeur van mekaar onderskei word, Hand. 6:1; 22:2. Sommige meen dat dit die rede was, waarom hy sy naam nie in die begin van die brief genoem het nie, soos hy gewoonlik in ander gedoen het, sodat sommige Jode hulle nie aan die begin van die brief sou vererg en sodoende met ’n vooroordeel dit nie behoorlik oorweeg nie, omdat mense hul wysgemaak het dat Paulus ’n vyand van die wet was, soos te sien is in Hand. 21:20, 21. Nogtans wys hy sy naam in die einde van die brief genoegsaam aan, as hy van sy gevangenskap en van Timótheüs en die broeders van Italië, wat hom daagliks in sy gevangenis in Rome kom besoek het, melding maak.

INHOUD VAN HIERDIE BRIEF.

HIERDIE brief is ’n baie treffende geskrif van die Nuwe Testament, waarin die uitnemendheid van die persoon en die ampte van JESUS CHRISTUS, ons Saligmaker, met ’n orde wat die apostel Paulus in die meeste van sy briewe volg en met ’n baie goddelike styl beskryf word, tot aan die negentiende vers van die tiende hoofstuk. Van waar verder tot die einde van die brief verskeie vermaninge voorgestel word, wat dien tot versterking in die geloof en in die Christelike wandel. Wat die persoon van CHRISTUS betref, daaroor handel hy in die eerste twee hoofstukke. In die eerste hoofstuk bewys hy CHRISTUS se waaragtige en ewige godheid, met ’n verklaring van sy uitnemendheid bo alle engele. In die tweede hoofstuk bewys hy CHRISTUS se ware menslike natuur, wat Hy uit die saad van Abraham aangeneem het tot ons verlossing. In die derde en vierde hoofstuk spreek hy oor CHRISTUS se profetiese amp, en verhef dit ver bo die amp van die profeet Moses, en bewys dat CHRISTUS se leer waardiger en kragtiger is en derhalwe met meer sorgvuldigheid waargeneem moet word. In die vyfde hoofstuk begin hy te spreek van CHRISTUS se roeping tot die priesterlike amp, en nadat hy ’n tussenrede gebruik het van die elfde vers van die vyfde hoofstuk af tot aan die einde van die sesde hoofstuk, wat dien om hulle tot aandag en sorgvuldigheid in die vashou van hierdie leer aan te spoor, kom hy in die sewende hoofstuk en verklaar die eienskap van die koninklike en priesterlike amp van CHRISTUS, deur ’n gedurige vergelyking met Melgisédek en sy ampte, tot aan die einde van die hoofstuk. In die agtste hoofstuk stel hy die voortreflikheid van die priesterlike amp van CHRISTUS voor oë, deur die vergelyking van die ou verbond met die voortreflikheid van die nuwe verbond; en ten laatste van die begin van die negende hoofstuk tot die negentiende vers van die tiende hoofstuk, verklaar hy die eienskappe en uitnemendheid van die priesterlike amp van CHRISTUS, deur ’n vergelyking met die amp van die priesters van die Ou Testament en in die besonder met die amp van die hoëpriesters, sowel in sy ander bedieninge, as in sy jaarlikse ingang in die Allerheiligste; en sluit daarmee die handelinge van die eerste deel van die brief af. In die negentiende vers van die tiende hoofstuk kom hy by die tweede deel van die brief, en vermaan hulle in die algemeen tot gehoorsaamheid en standvastigheid in hierdie voorgestelde leer, nieteenstaande hul verdrukkinge en sy boeie. Daarna handel hy oor die geloof en die eienskappe van die geloof deur die hele elfde hoofstuk, en oor die eienskappe van die Christelike hoop en lydsaamheid in die twaalfde hoofstuk, en oor verskeie pligte van die liefde tot die twintigste vers van die dertiende hoofstuk, en van daar tot die einde toe sluit hy die brief af met ’n ernstige gebed tot God vir hulle, met ’n kort vermaning en beskrywing van Timótheüs se verlossing, en met die gewone groet.