DIE BRIEF VAN DIE APOSTEL PAULUS
AAN DIE KOLOSSENSE
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
NADAT die Kolossense deur die diens van enkele troue leraars, en in die besonder van Épafras, die evangelie van CHRISTUS aangeneem het, so het daar ander in hierdie gemeente, en in sommige nabygeleë gemeentes, naamlik van Laodicéa en Hiërápolis, hfst. 4:13, ingekom, wat die eenvoud van die leer van die evangelie met leringe van die Griekse filosofie en met enkele seremoniële onderhoudinge van die wet probeer vermeng het. Waaroor die apostel Paulus, wat nou in Rome gevange is, nadat hy deur hierdie Épafras gewaarsku is (soos afgelei kan word uit die 8ste vers van hfst. 1, en die 12de vers van hfst. 4), dit goedgedink het om hierdie brief aan hulle te skryf, en Tíchikus en Onésimus na hulle te stuur, om hulle oor alles te onderrig en in die aangenome leer teen al die dwalinge te versterk. In welke brief ná die inleiding, wat duur tot die 12de vers van die 1ste hfst., die apostel met ’n baie verhewe styl die vernaamste leerstukke van die evangelie kortliks voorstel, in die besonder met betrekking tot die voortreflikheid van die persoon, die amp en die weldade van CHRISTUS, en getuig dat alle volmaaktheid in Hom alleen te vinde is, wat hy doen tot die 23ste vers van die 1ste hfst. Van daar af verder, tot die einde van hierdie hfst., vermaan hy hulle om in hierdie leer standvastig te bly, en verklaar dat hy daarom ook die verdrukkinge van CHRISTUS ly en dat hy deur CHRISTUS as ’n apostel tot verkondiging van hierdie verborgenheid geroep is. In die 2de hfst. waarsku hy hulle teen die gemelde dwalinge, sowel van die platoniese filosofie in die aanroeping van die engele, as van die onderhouding van die besnydenis en die onderskeid van dae en voedsel, tot die einde van die hfst. Daarna, in die 3de hfst., begin hy om hulle te vermaan tot ’n Christelike lewenswandel, welke vermaning duur tot die 6de vers van die 4de hfst.; en eerstens vermaan hy hulle in die algemeen om die oue mens met al sy ondeugde af te lê, en om hulle met die nuwe mens met al sy geestelike deugde te beklee, wat hy doen van die begin tot die 17de vers van die 3de hfst., en kom daarna tot die vermaninge van besondere pligte, naamlik van vroue en manne in die huwelik, van kinders en vaders, en van diensknegte en here, tot die 2de vers van die 4de hfst. In die 2de vers van die 4de hfst., tot die 7de vers, vermaan hy hulle om te bid en tegelykertyd ook vir hom, asook om versigtig te wandel onder diegene wat buite is. Sodat hierdie brief tot hiertoe byna dieselfde inhoud het as die brief aan die Efésiërs; behalwe dat die leringe hier ietwat verkort word. Van die 7de vers af tot die einde van die hfst. sluit hy die brief af, eerstens met ’n verklaring dat hy Tíchikus en Onésimus na hulle stuur om hulle in te lig oor sy omstandighede, tot die 9de vers, daarna met verskillende groete oor en weer, tot die 16de vers, en eindelik met ’n vermaning dat hulle hierdie brief ook aan dié van Laodicéa sou laat lees, en dat Archíppus in sy diens getrou is en dat hulle aan Paulus se boeie moes dink.