Statevertaling – Bybelstigting

Matthéüs

DIE HEILIGE 1EVANGELIE 2VOLGENS

3MATTHÉÜS

Spring na die lys van die boek name

1 Die woord euangelion is ’n Griekse woord en beteken ’n goeie of blye boodskap, Luk. 2:10, met welke naam in die Heilige Skrif, vernaamlik van die Nuwe Testament, die leer genoem word wat die profete en apostels verkondig het oor die verlossing van die mense en oor die ewige saligheid, wat deur die Messías teweeggebring is. Omdat dit deur die profete in beloftes voorgestel word, dat die Messías in die wêreld sou kom en dit teweegbring, en deur die apostels, dat Hy in die volheid van die tyd in die wêreld gekom het en die verlossingswerk teweeggebring het, daarom word deur hierdie woord ook in die besonder die leer van Christus en van die apostels oor die volbringing van hierdie beloftes deur Jesus Christus, wat nou in die vlees gekom het, Rom. 16:25, verstaan. En nog meer besonderlik die geskiedenis van die koms van die Messías in die vlees, van sy geboorte, leer, wonderwerke, lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart. En in hierdie betekenis word dié woord hier in die titel gebruik; soos ook in Mark. 1:1. En die skrywers van hierdie geskiedenis word daarom ook evangeliste genoem, hoewel daardie woord ook soms breër gebruik word, vir iemand wat hier en daar gestuur word om die evangelie te verkondig. Sien Hand. 21:8. Ef. 4:11. 2 Tim. 4:5.

2 So word die titel gestel, en nie die Evangelie van Matthéüs nie, om te kenne te gee, dat Matthéüs nie die vernaamste outeur van hierdie geskrif is nie, wat die Gees van God is, 2 Tim. 3:16, maar dat hy slegs ’n dienaar is, wat God gebruik het om dit te beskryf. Dieselfde kan ook opgemerk word ten opsigte van die titels van die ander Evangelies.

3 Matthéüs was ’n seun van Alféüs, ook Levi genoem, Mark. 2:14. Luk. 5:27. Oor sy roeping tot die apostelskap skryf hy self in Matt. 9:9, 10, ens., en stel homself ook onder die apostels, Matt. 10:3. Hy was die eerste een wat die evangeliese geskiedenis beskryf het, omtrent in die negende jaar ná Christus se hemelvaart, soos baie ou geskiedskrywers getuig; wat ook sê dat hy die evangelie in Ethiópië of Kus (land van die More) verkondig het. Sommige meen dat hy hierdie Evangelie in die Hebreeuse taal beskryf het. Maar dit is nie geloofwaardig nie, omdat dit nooit êrens in Hebreeus gesien is nie, en omdat Matthéüs nie net die Hebreeuse woorde soos Emmánuel nie, Matt. 1:23, maar ook hele sinsnedes, soos Eli, Eli, lama sabagtáni, Matt. 27:46, in Grieks vertaal het, wat hy nie sou gedoen het as hy in Hebreeus geskryf het nie; soos hy ook die plekke van die Ou Testament meestal só weergee soos hulle in die ou Griekse vertaling gestel is.

INHOUD VAN HIERDIE BOEK.

DIE evangelis Matthéüs beskryf in hierdie boek vernaamlik twee sake: eerstens die persoon van die MESSÍAS en Middelaar JESUS CHRISTUS, en daarna sy amp en hoe Hy dit begin, bedien en uitgevoer het. Aangaande sy persoon, dat Hy die ware Emmánuel, waaragtige God en ware mens in een persoon is; en wat sy menslike natuur betref beskryf Matthéüs sy geslag, ontvangenis van die Heilige Gees en geboorte uit die maagd Maria, met sy Naam, hfst. 1. Dat enkele wyse manne uit die Ooste wat, nadat hulle deur ’n ster oor sy geboorte onderrig is, gekom het om Hom te aanbid; dat Herodes daaroor bevrees was en al die jong kinders in Betlehem van twee jaar en daaronder laat vermoor het; maar dat CHRISTUS se ouers, nadat hulle deur God gewaarsku is, saam met hierdie Kind na Egipte ontvlug het en daarna met Hom gaan woon het in Násaret, hfst. 2. Aangaande sy amp beskryf Matthéüs hoe Hy daartoe voorberei is en hoe Hy dit bedien het. Dat Johannes die Doper met sy preke vir Hom die weg berei het en Hom gedoop het, en dat God die Vader en die Heilige Gees Hom toe uit die hemel in hierdie amp ingehuldig het, hfst. 3. Dat Hy deur veertig dae van vas en ’n geweldige stryd teen die versoekings van die duiwel verder daartoe berei is. Dat Hy daarna sy amp uitgevoer en bedien het, sowel in die staat van sy vernedering as in die staat van sy verhoging. Dat Hy in die staat van sy vernedering eerstens sy profetiese amp bedien het, en vir dié doel uit Násaret getrek en in Kapérnaüm gaan woon het, terwyl Hy in die sinagoges van Galiléa geleer het en sy leer met wonderwerke bevestig het, hfst. 4. En beskryf ’n voortreflike prediking wat deur Hom op die berg gehou is, waarin Hy die geluksaligheid van sy dissipels aanwys en die wet van die valse verklarings van die Fariseërs suiwer, hfst. 5. Leer hoe ’n mens aalmoese moet gee en bid en nie al te bekommerd moet wees oor die tydelike onderhoud nie, hfst. 6. Sy naaste nie moet oordeel nie, moet waak teen die valse profete en die Woord van God nie net hoor nie, maar ook bewaar, hfst. 7. Dat Hy melaatses gereinig, krankes genees, ’n storm stilgemaak en duiwels uitgedryf het, hfst. 8. Dat Hy ’n verlamde man genees het, Matthéüs van tollenaar tot apostel geroep, ’n vrou van bloedvloeiing verlos, ’n dogtertjie uit die dood opgewek, die duiwel uit ’n stom man uitgedryf het, hfst. 9. Dat Hy die twaalf apostels vooruit gestuur het om te preek, met die mag om die onreine geeste uit te dryf, en met die opdrag hoe hulle hul daarin moet gedra, hfst. 10. Dat Hy aangaande Johannes die Doper, toe hy twee dissipels na Hom gestuur het, ’n voortreflike getuienis gegee het; die stede wat die evangelie nie aangeneem het nie, met baie swaar strawwe dreig; en alle vermoeide en belaste sondaars na Hom toe nooi, hfst. 11. Dat Hy, toe sy dissipels op die sabbat are gepluk het, Hom verantwoord het; die strikke van die Fariseërs ontwyk het; die duiwel uit ’n blinde en dowe verdryf het; die Fariseërs oortuig het van die sonde teen die Heilige Gees, aan hulle die ewige straf verkondig en geleer het wie sy regte moeder, broer en suster is, hfst. 12. Dat Hy die gesteldheid van sy gemeente hier beskryf het deur verskeie gelykenisse, van ’n saaier, mosterdsaad, verborge skat, koopman en visnet; dat Hy in sy vaderstad gekom het, waar Hy nie geag is nie, hfst. 13. Beskryf die gevangenskap en die dood van Johannes die Doper; en hoe CHRISTUS vyfduisend mense met vyf brode en twee visse gevoed het; op die water geloop het, die storm stilgemaak het, en baie siekes in die land Gennésaret genees het, hfst. 14. Verantwoord sy dissipels wat met ongewaste hande eet, deur te leer wat dit is wat die mens werklik ontreinig; dat Hy die dogter van ’n Kananése vrou verlos het van ’n onreine gees, en vierduisend manne versadig het met sewe brode en ’n paar vissies, hfst. 15. Dat Hy die Fariseërs bestraf het, omdat hulle ’n teken geëis het, en sy dissipels teen hul suurdeeg gewaarsku het; dat Petrus ’n treffende belydenis oor Hom gedoen het, vir wie Hy die sleutels van die hemelryk belowe; dat CHRISTUS sy lyding en dood, asook sy opstanding en koms in sy heerlikheid vooruit aangekondig het, hfst. 16. Dat Hy op die berg ’n bewys van sy heerlikheid voor drie dissipels betoon het en geleer het dat Johannes die Doper die Elía was wat sou kom; ’n maansieke kind genees het, sy dood en opstanding weer ’n keer vooruit aangekondig en belasting betaal het, hfst. 17. Dat Hy sy dissipels tot nederigheid vermaan het; dat hulle struikelblokke moet vermy, bose luste teëstaan, die kindertjies nie verag nie, deur ’n gelykenis van ’n verlore skaap; hoe ’n mens ’n broeder wat gesondig het, moet vermaan en hom sy misdaad vergewe, met ’n gelykenis van ’n koning wat sy dienskneg tienduisend talente kwytgeskeld het, hfst. 18. Dat ’n mens sy vrou nie moet verlaat nie, behalwe oor hoerery; leer vir wie die huwelik nodig is; seën die klein kindertjies; wys vir ’n jongeling wat hy moet doen as hy die ewige lewe deur homself wil verkry; hoe moeilik die rykes salig kan word; en watter loon diegene sal hê wat alles om CHRISTUS wil verlaat, hfst. 19. Dat Hy deur ’n gelykenis van arbeiders wat in die wingerd gehuur is, leer dat die loon van God uit genade gegee word; sy lyding vooruit aankondig; die moeder van die seuns van Sebedéüs bestraf oor haar eergierige versoek en sy apostels vermaan dat hulle nie na hoogheid moet streef nie; twee blindes se sig herstel, hfst. 20. Dat Hy sy koninklike intog in Jerusalem maak; ’n onvrugbare vyeboom vervloek; met die priesters in die tempel woorde wissel oor sy outoriteit en persoon, hfst. 21. Deur ’n gelykenis van die genooides na ’n bruilof leer dat daar in die uiterlike gemeente altyd huigelaars is en dat die ware lidmate met die geloof soos met ’n bruilofskleed beklee moet wees. Dat ’n mens aan die keiser belasting moet betaal; dat ’n mens ná die opstanding nie sal trou nie; dat die wet van God opsommend daarin bestaan om God en die naaste lief te hê; dat Hy nie net die seun nie, maar ook die Here van Dawid is, hfst. 22. Waarsku sy dissipels teen die Fariseërs, dat hulle wel moet aanneem wat hulle uit Moses en die Profete leer, maar hul hovaardigheid en geveinsdheid nie moet navolg nie en ook nie hul valse leer aanhang nie; en verkondig aan die Fariseërs die ewige wee, sowel vanweë hul geveinsdheid as hul moorddadigheid, hfst. 23. Kondig die verwoesting van die tempel en die stad Jerusalem vooruit aan, met die tekens wat dit, asook sy tweede koms, sal voorafgaan; en vermaan tot waak en bid, hfst. 24. Deur gelykenisse van tien maagde wat die koms van die bruidegom verwag, en van die diensknegte aan wie die heer talente uitgedeel het om daarmee wins te maak, en beskryf sy laaste koms om te oordeel, hfst. 25. Dat Hy sy lyding, wat op hande was, weer vooruit aankondig; dat die owerstes raad gehou het om Hom te vang, met wie Judas onderhandel het om Hom oor te lewer; dat Hy die verraaier onder sy dissipels openbaar; die pasga eet met sy dissipels en in die plek daarvan die heilige nagmaal instel; die vlug van die dissipels en Petrus se verloëning vooruit aankondig. Hoe Hy sy lyding in die tuin met groot benoudheid en gebed begin; hoe Hy verraai en gevang word; gebind na Kájafas gelei, ondersoek en ter dood veroordeel word; hoe Petrus Hom drie maal verloën, hfst. 26. Dat Judas berou kry en homself ophang. Dat CHRISTUS na Pilatus gebring word, wat tevergeefs probeer om Hom te red en Hom uiteindelik oorlewer om gekruisig te word, nadat Hy bespot en gegésel was; dat Hy, terwyl Hy sy kruis dra, buite die stad gelei word, waar sy klere uitgetrek en die lot daaroor gewerp word; en vasgespyker aan die kruis saam met twee rowers sterf, terwyl Hy deur talle wondertekens betoon wie Hy was; en begrawe word, hfst. 27. Dat Hy op die derde dag weer opgestaan het uit die dood, en Hom weer lewend getoon het aan enkele vroue en aan sy dissipels; aan wie Hy die opdrag gee om die evangelie deur die hele wêreld te verkondig, hfst. 28.