DIE BRIEF VAN DIE APOSTEL
PAULUS AAN TITUS
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
TITUS, uit Griekse of heidense ouers gebore, Gal. 2:3, wat bekeer is tot die geloof, was ’n getroue metgesel van Paulus op sy reise en gebruik vir die bediening van die Woord, 2 Kor. 2:12; 8:23, gestuur na Korinthe, om liefdegawes te versamel vir die gelowiges in Judéa, 2 Kor. 7:14; 8:6, 16, 23; 12:18, na Dalmásië, 2 Tim. 4:10, en na die eiland Kreta, om die gemeentes daar te versorg met getroue leraars, hfst. 1:5, met welke doel Paulus hierdie brief aan hom skryf, waarin hy, ná die gewone groet in die eerste vier verse vervat, eerstens aantoon hoedanig die leraars en opsieners van die gemeentes moet wees aangaande hul lewe en leer, en watter gawes hulle moet hê. Daarna, omdat daar op daardie eiland baie slegte mense was, en baie verleiers, wat sommige Joodse fabels en die onderskeid van voedsel gedryf het, vermaan hy hom om hulle ernstig te bestraf en die mond te stop, hfst. 1. Daarna vermaan hy Titus, omdat baie die leer van die evangelie misbruik het tot ongebondenheid, om te leer, sowel in die algemeen vir alle soorte mense, oud en jonk, manne en vroue, ouers en kinders, as in die besonder die gelowige diensknegte, hoe hulle hul behoort te gedra en dat hy self hulle met ’n goeie voorbeeld voorgaan; deur te leer dat die leer van die evangelie en van die genade, wat deur CHRISTUS aan ons betoon is, aan ons geopenbaar is, nie om ons rede te gee tot ongebondenheid nie, maar om ons tot alle deugde aan te spoor, hfst. 2. En omdat sommige ook die leer van die vryheid, waarin CHRISTUS ons gestel het, misbruik het tot weerspannigheid, daarom vermaan hy hom in die derde hfst. om dit gedurig aan die gelowiges voor te hou, dat hulle die owerhede moet gehoorsaam en hulle ordelik moet gedra; vir daardie doel toon hy aan hoedanig ons voor ons bekering was, en hoe CHRISTUS ons daarvan verlos en salig gemaak het, nie na verdienste van ons werke nie, maar uit genade, egter met die doel dat ons goeie werke sou nastreef. Hy vermaan hom om ook te vlug van alle dwase strydvrae, twis en mense wat partyskap verwek. En terwyl hy hom van sy kant af enige spesifieke opdragte gee, sluit hy die brief af met die gewone groet.