Statevertaling – Bybelstigting

VERSTAAN KANTTEKENINGE

Geskiedenis en inhoud van die Statebybel met kanttekeninge

Die waarde van die kanttekeninge

Ons sou onsself kon afvra: Waarom sou ek eintlik die kanttekeninge (moet) lees? Is God se Woord self nie voldoende nie? Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig om iets te weet van die ontstaan van kanttekeninge by die Bybelteks. In die tweede helfte van hierdie stuk word bespreek hoe ons die kanttekeninge by die Bybel kan gebruik om die Bybel nie net te lees nie, maar ook te ondersoek. “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig” (Johannes 5:39).

Die ontstaan van kanttekeninge

Die Statevertalers mog aantekeninge “in die kant” maak. Dit was nodig om die Bybelteks op moeilike plekke te verduidelik. Hierdeur het die sogenaamde kanttekeninge ontstaan, notas langs en onder die Bybelteks. Die Statebybel het bekend geword vir sy uitgebreide kanttekeninge. Dit bevat meer teks as die Bybelteks self. Buite Nederland is die gebruik van ’n “Kanttekeningebybel” eintlik onbekend, al het mense allerhande Studiebybels. Tog is die toevoeging van kanttekeninge nie ’n uitvinding van die Statevertalers nie.

Joodse rabbi’s en Middeleeuse glosse

Al in die ou Joodse “Talmoed” en die latere “Rabbynse Bybel” het kanttekeninge rondom die (Bybel)teks gestaan. Vir die Jode was die uitlegtradisie van groot belang: ná die Ou Testament het hulle veral baie waarde geheg aan mondelinge oorlewering en die uitleg van die rabbi’s. Dit was alles in dik boeke opgeskryf. Hierby het die een uitleg ’n aanvulling gevorm op die ander uitleg. So het ’n sisteem van kolomme ontstaan, ten doel om die verklarings van die Joodse skrifgeleerdes deur te gee.

In die Middeleeue het die geestelikheid ’n Latynse vertaling van die Bybel (die “Vulgata”) gebruik. By hierdie Latynse teks was reëlmatig uitgebreide verklarings geskryf, wat hulle “glosse” genoem het. Ná die ontstaan van die boekdrukkuns was dit vir drukkers ’n uitdaging om hierdie glosse in kleiner letters rondom die Bybelteks te plaas. So is dit later ook by die Statebybel gedoen.

Kanttekeninge in die tyd van die Reformasie

Een van die belangrikste punte van belang van die reformators was die “sola Scriptura”. Dit beteken dat slegs die Skrif gesaghebbend is vir die geloofsleer. Hoe belangrik die insigte en uitleg van die kerkvaders ook is, is egter slegs die Bybel self leidend. Dit is naamlik deur God geïnspireer. Ons het wel uitleg by God se Woord nodig, soos daar van die Ethíopiër staan dat hy iemand nodig gehad het om hom te onderrig uit die boekrol van Jesaja (Handelinge 8:30, 31).

Die reformators wou dan ook staan in die uitlegtradisie van die kerk van alle eeue. Aan die een kant het hulle allerlei vergesogte verklarings van Joodse of Christelike verklaarders stellig afgewys. Aan die ander kant het hulle gebruik gemaak van wat bruikbaar was: die letterlike verklaring van die Bybelteks. Luther het by sy Bybelvertaling ook kort kanttekeninge opgestel. Dit het baie uitdrukkings bevat wat vir die gewone mense verstaanbaar was. Luther se kanttekeninge het baie keer skerp teen die Rooms-Katolieke Kerk ingegaan. Reëlmatig het sy kanttekeninge meer die karakter van los spreuke as van grondige teksuitleg. Tog het hy die Bybelteks baie keer baie aktueel verklaar. So lees ons in 1 Samuel 3:1: “En die woord van die HERE was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie”. Luther het by hierdie teks geskryf: 

“Daar was nie genoeg predikers of kerklikes nie; die Bybel het toe onder die bank gelê. Niemand het gestudeer nie, maar Samuel het gekom en het daardie Woord weer na vore gebring.”

’n Ander Duitse teoloog, Johannes Piscator uit Herborn, het in 1602-1604 ’n noukeurige vertaling van die Bybel uitgegee. Ná afloop van elke Bybelhoofstuk het hy ’n kort saaklike uitleg en praktiese toepassings gegee. In latere uitgawes het hierdie verklarings nie die Bybelteks nie, maar daarlangs gestaan. Die Statevertalers het die Bybel van Piscator baie gebruik. Een van hulle het later geskryf: “Die vertaling van Johannes Piscator was baie behulpsaam, in sy eie laaste revisie was baie toevoegings wat hy met die hand bygevoeg het”[1]. Hulle wou hul by die grondige gereformeerde uitleg van Piscator aansluit.

Die Statevertalers het teologies veral in die lyn van Calvyn gedink. Daarom het ook die Bybeluitgawes uit Genève invloed in Nederland gehad. In Genève het Calvyn immers gewerk, en ná hom Theodorus Beza en baie ander bekwame “skrifgeleerdes”. Iemand wat die Franse Bybel ondersoek wat in 1588 in Genève gedruk was, en dit vergelyk met die Statebybel, sal baie ooreenkomste sien. Selfs die uiterlike van die Bybel kom ooreen, met die baie kanttekeninge in kleiner letters langs en onder die Bybelteks. Ook in die inhoud van die kanttekeninge kan baie ooreenkomste tussen albei Bybels gevind word.

Die kanttekeninge was in die 16de en 17de eeu ’n belangrike middel om die juiste teologiese visie op die Bybel uit te druk. Die Engelse koning Jakobus I (James) het baie moeite gehad met die baie calvinistiese verklarings wat in die Engelse Geneva Bible (1560) opgeneem was. Toe hy later die opdrag gegee het om ’n nuwe Bybelvertaling in Engels te doen, het hy dus ook verbied om leerstellige kanttekeninge toe te voeg. Daarom ontbreek sulke kanttekeninge in die “King James Bybel”.

In die Nederlande het baie gereformeerdes gely onder die vervolgings van die Roomse inkwisisie. Sommige moes met die dood betaal vir die besit van ’n Nederlandstalige Bybel met anti-Roomse kanttekeninge. As iemand ’n Bybel besit het waarin by Matthéüs 7:6 genoteer gestaan het “Byde honden ende die verckens verstaetmen die vianden des woorts Gods”, het hy wel rede gehad om te vrees vir die ketterjagters.

Kanttekeninge in die Statebybel

Die Dordtse Sinode van 1618-1619 het besluit dat daar ’n Bybelvertaling vanuit die grondtale gedoen moes word. Hierdie vergadering het hom ook gebuig oor die vraag hoe die vertalers van die Bybel te werk moes gaan, en het bepaal dat daar kanttekeninge gebruik moes word as:

  1. Die Hebreeuse of Griekse teks baie moeilik letterlik vertaal kon word. Die Statevertalers het dan ’n ietwat “vryer” vertaling gekies, maar die letterlike vertaling in die kanttekening genoteer.
  2. Die grondteks op ’n bepaalde punt ’n bietjie “duister” was. Ter verklaring van die teks het die Statevertalers dan ook kanttekeninge toegevoeg.

Die vertalers moes ook die “gelykluidende plekke” of verwystekste by die Bybelteks noteer. So het die leser baie hulpmiddele in die hand gekry om die Woord van God te ondersoek. Aanvanklik was dit nie soseer die bedoeling om uitgebreide leerstellige verklarings – of die verwerping van dwalings – in die kant op te neem nie. Tog het die Statebybel juis daarvoor bekend geword. Prof. dr. F.W. Grosheide skryf in “De Statenvertaling 1637-1937” (1937): “Dit hoef niemand enige moeite te kos om die hele gereformeerde dogmatiek in die kanttekeninge te vind nie. […] Die Statevertalers was gereformeerde teoloë, onverdag in die leer, terwyl hulle gestaan het op die grondslag van die gereformeerde belydenis, afkerig van alle romanisme en remonstrantisme, het hulle gebuig voor die Skrif as die Woord van God.”[2]

Prof. G. Wisse skryf in ’n voorwoord vir die driedelige uitgawe van die Bybel met kanttekeninge dat die kanttekeninge “veral van baie groot waarde is vir die verstaan van die inhoud van die Woord. In die kanttekeninge kom die eeue-oue, gereformeerde belydenis met die belewing daarvan na vore”[3]. Die Statevertalers wou self ook duidelik aantoon dat hierdie gereformeerde belydenis inderdaad “eeue oud” is. Uit hul baie kanttekeninge, en ook uit die baie aantekeninge wat hulle in hul vertaalproewe gemaak het, blyk dat die juiste uitleg van die Woord van God vir hulle nie eers by Calvyn begin het nie. Inteendeel, vir die Ou Testament het die vertalers byvoorbeeld baie gebruik gemaak van rabbynse kommentare en verklarings van kerkvaders en Middeleeuse teoloë. Hulle het alle dinge beproef, en dit behou wat vir hulle goed voorgekom het. Vir die uitleg van die boek Hooglied het hulle die “Corte ende duydelicke Verclaringe over het Hooge-Liedt Salomo” (1616) van hul tydgenoot Godefridus Udemans gebruik. Vir die uitleg by die Nuwe Testament was die vertaling met kanttekeninge van Herman Faukelius (1617) baie nuttig.

Die kanttekeninge se doel is dus om lig te werp op die Woord van God, vanuit die ryk tradisie van die kerk van alle eeue. Die Statevertalers het wel besef dat die lig van die Heilige Gees bowenal nodig is. Hulle moes dus ook baie keer opmerk dat die juiste verklaring van die teks nie vir hulle heeltemal duidelik was nie, of dat daar meer moontlikhede was. Tog was hul werk so grondig, dat die kanttekeninge van die Statebybel internasionale bekendheid gekry het. In 1657 is die volledige Statebybel in Engels vertaal. Daarbenewens het vertalings van alle kanttekeninge in Duits (1665) en in Frans (1669) verskyn. Daar was boonop selfs planne om dit ook (gedeeltelik) te vertaal in Hongaars en in Pools.

Gebruik van die kanttekeninge

Om die uitleg van die Statevertalers goed te kan gebruik en te waardeer, is dit belangrik om te sien dat die inhoud van die kanttekeninge opgedeel kan word in verskillende soorte. Dit word hieronder kortliks genoem en toegelig.

Soos hierbo al genoem is, was een van die belangrikste redes om ’n kanttekening te noteer die verantwoording van die vertaalkeuse. In alle gevalle moet die leser kan veronderstel dat hy die suiwer Woord van God in ’n letterlike vorm voor hom het. Soms moes die letterlike vorm oorgebring word in ’n kanttekening, as die grondteks moeilik in Nederlands (of hier in Afrikaans) weergegee kon word.

  • Psalm 7:13: “Hy span sy boog en mik daarmee.”
    Kanttekening: “Hebr. trap; omdat ’n mens die voetboog met die voet vastrap, wanneer ’n mens dit wil span; soos dikwels elders.”[4]
  • Romeine 8:19: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.”
    Kanttekening: “Gr. Want die verlange of verwagting van die skepping wag met opgehefde hoof, ens. Sien ook Filip. 1:20.”[5]
Die Statevertalers het by hul vertaalwerk gebruik gemaak van baie Bybelvertalings wat hulle tot hul beskikking gehad het. Die King James Bybel was byvoorbeeld belangrik. Dit het wel gebeur dat daar op basis van die grondteks meer vertaalmoontlikhede was en dat die verskillende Bybelvertalings verskil het. Dan het die vertalers baie keer een of meer alternatiewe in die kanttekeninge gegee.
  • Johannes 18:22: “En toe Hy dit sê, het een van die dienaars wat daar staan, Jesus in die aangesig geslaan.”
    Kanttekening: “Of: ’n hou met ’n stok of lat gegee.”[6]
  • Génesis 5:1: “DIT is die stamboom van Adam.”
    Kanttekening: “Of: verhaal, register, rekening, optelling van geboortes, of geslagte, dit is, van diegene wat uit Adam gebore is […].”[7]
Die Statebybel bevat byna tienduisend los teksverwysings. Dit begin met ’n letter. In die verklarende kanttekeninge, wat met ’n syfer begin, staan reëlmatig ’n verwysing na ’n ander teks uit die Bybel of na ’n ander kanttekening. Sodoende kan die Bybelleser baie noukeurig Skrif met Skrif vergelyk, en word byvoorbeeld die verband tussen die Ou en Nuwe Testament duidelik.
  • Hoséa 11:1: “TOE Israel 1kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het aEk 2my 3seun geroep. ” Verwysing a: Matt. 2:15.
    Kanttekening 3: “Naamlik Israel […]. Maar dat daar onder hierdie woorde bowendien ’n profesie verborge is van die eniggebore Seun van die Vader, onse Here Jesus Christus, wat die Hoof is van sy geestelike Israel of kerk, blyk uit Matt. 2:15. […]” [8]
  • Matthéüs 2:15: “sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die cprofeet: 14Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Verwysing c: Hos. 11:1.
    Kanttekening 14: “Hoewel Hos. 11:1 en die kanttekeninge, in die eerste plek na die verlossing van die volk Israel uit Egipte verwys, moes dit nogtans ook in Christus, as die Hoof van hierdie volk, vervul word.” [9]

Baie kanttekeninge bevat uitleg by die Bybelteks, agtergrondinligting oor (kerk)geskiedenis, aardrykskunde, natuurkunde, geneeskunde, taalkunde, kruie, mate en gewigte, musiekinstrumente, ensovoorts. Die kanttekeninge bevat onder andere verwysings na kerkvaders, filosowe en digters, geskiedskrywers, rabbi’s en die apokriewe boeke.

Voorbeelde van teksuitleg:

  • Psalm 10:8: “sy oë loer op die ongelukkige.” Kanttekening: “Dit is, hy loer in die verborgenheid op hom.” [10]
  • 2 Petrus 1:14: “omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is.” Kanttekening: “Dit is, my dood en afsterwe.”

’n Voorbeeld van plantkunde:

  • Jona 4:6: “Toe beskik die HERE God ’n wonderboom.” Kanttekening: “Hebr. kikajon. Oor hierdie gewas is daar baie uiteenlopende menings. Die vernaamste verklaarders verstaan hier die wonderboom, anders genoem: kasterolieboom, wat baie in Egipte groei en bekend is onder die naam KIKI. Dit groei baie vinnig en word in lengte hoër as ’n man, met groot breë blare, verkoelend van aard. Sien die kruidboek van Dodoneus.”
Ons vind byvoorbeeld by Prediker 12 uitleg by beeldspraak in die Bybel.

vers

Bybelteks uitleg (sien kanttekeninge)

3

wagters van die huis arms met die hande

3

malers tande

4

deure lippe

4

tone van die lied stembande

5

amandelboom grys of grou hare

6

silwerdraad rugmurg

6

goue oliekruik velletjie waarin die harsings lê

6

kruik by die fontein belangrikste bloedaar aan die lewer.
Die Statevertalers het gewerk in ’n tyd waarin die stryd met die Remonstrante kort tevore, gedurende die sinode van 1618-1619, ten gunste van die gereformeerde godsdiens besleg was. Verskillende kanttekeninge gee ’n Bybelse weerlegging van die remonstrantse leerstellings, maar ook van Rooms-Katolieke en ander dwalings.
  • 1 Timótheüs 2:4: “wat wil hê dat alle mense gered word.”
    Kanttekening: “Die woord alle word hier ook gebruik vir allerlei […], want as God wil dat alle mense gered word, so sal ook alle mense gered word, omdat God alles doen wat Hy wil. […] Dat iemand sou wou sê, dat God dit wil, indien die mense dit ook wil, is om die redding ten dele aan die wil van God en ten dele aan die wil van die mens toe te skryf, wat in stryd is met dit wat die apostel leer, Rom. 9:16, 23; 10:20; 11:35, 36, en deurgaans elders. [11]
  • In Openbaring 13:17 word geskryf oor die merk van die dier, sy naam en die getal van sy naam. In die kanttekeninge word dit verklaar as die Rooms-Katolieke leer en instellings. Die getal 666 word uitgelê as “Rooms” of “Latyns”.

Ten slotte

Die Stigting Reformatoriese Getuienis (SRG) wil die lees van die kanttekeninge bevorder, omdat dit ’n goeie en betroubare verklaring by die Bybel is. Die lees en oordenking van die Bybel moet allereers persoonlik gebeur, maar daarna ook in die gesin, op skool en in die kerk. “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Die kanttekening merk daarby op dat die lydsaamheid en vertroosting uit die lees, aanhoor en oordenking van die Skrifte verkry word.

[1] ‘Zeer behulpzaam was de vertaling van Johannes Piscator, in zijn eigen laatste revisie met vele handschriftelijke toevoegingen van hemzelf.’
[2] ‘Het behoeft niemand enige moeite te kosten om in de kanttekeningen de gehele gereformeerde dogmatiek te vinden. […] De Statenvertalers waren gereformeerde theologen, onverdacht in de leer, staande op de grondslag der gereformeerde belijdenis, wars van alle romanisme en remonstrantisme, zij bogen voor de Schrift als het Woord Gods.’

[3] ‘Vooral zijn de kanttekeningen van zeer grote waarde voor het verstaan van den inhoud des Woords. […] Te meer, daar in de kanttekeningen zoo bijzonder de aloude, gereformeerde belijdenis met haar beleving naar voren komt.’

[4] Psalm 7:13: ‘Hij heeft Zijn boog gespannen.’ Kantt.: ‘Hebr. getreden; omdat men den voetboog met den voet treedt, als men dien wil spannen; alzo elders dikwijls.’
[5] Romeinen 8:19: ‘Want het schepsel, als met opgestoken hoofde, verwacht de openbaring der kinderen Gods.’ Kantt.: ‘Gr. Want het verlangen of verbeiden des schepsels met opgestoken hoofde verwacht, enz. Zie ook Filipp. 1:20.’
[6] Johannes 18:22: ‘En als Hij dit zeide, gaf een van de dienaren die daarbij stond, Jezus een kinnebakslag.’ Kantt.: ‘Of: een slag met een stok of garde.’
[7] Genesis 5:1: ‘Dit is het boek van Adams geslacht.’ Kantt.: ‘Of: verhaal, register, rekening, optelling der geboorten, of geslachten, dat is, dergenen die van Adam geboren zijn […].’

[8] Hoséa 11:1: ‘Als Israël een kind was, toen heb Ik hem liefgehad, en aIk heb Mijn 3zoon uit Egypte geroepen.’ Verwijzing a: Matth. 2:15. Kantt. 3: ‘Namelijk Israël […]. Maar dat onder deze woorden wijders een profetie verborgen is van den eniggeboren Zoon des Vaders, onzen Heere Jezus Christus, Die het Hoofd is van Zijn geestelijke Israël of kerk, blijkt Matth. 2:15. […]’

[9] Matthéüs 2:15: ‘opdat vervuld zou worden hetgeen van den Heere gesproken is door den cprofeet, zeggende: 14Uit Egypte heb Ik Mijn Zoon geroepen.’ Verwijzing c: Hos. 11:1. Kantt. 14: ‘Hoewel deze plaats, Hos. 11:1, van de verlossing van het volk van Israël uit Egypte ook verstaan wordt, nochtans moest hetzelve mede in Christus, als het Hoofd van dit volk, vervuld worden.’

[10] Psalm 10:8: ‘Zijn ogen verbergen zich tegen den arme.’ Kantt.: ‘Dat is, hij loert in het verborgen op hem.’

[11] 1 Timótheüs 2:4: ‘Welke wil dat alle mensen zalig worden.’ Kantt.: ‘Dit woord alle wordt hier ook genomen voor allerlei […], want zo God wil dat alle mensen zalig worden, zo zullen ook allen zalig worden, dewijl God doet al wat Hij wil. […] Dat iemand zou willen zeggen, dat God zulks wil, indien de mensen ook willen, dat is de zaligheid ten dele aan Gods wil, ten dele aan des mensen wil hangen, hetwelk strijdt met hetgeen de apostel leert, Rom. 9:16, 23; 10:20; 11:35, 36, en doorgaans elders.’