Statevertaling – Bybelstigting

Markus

DIE HEILIGE EVANGELIE VOLGENS

1MARKUS

Spring na die lys van die boek name

1 Daar word gereken dat hierdie Markus dieselfde was as die een waarvan ’n mens lees in Hand. 12:12, 25; 15:37, 39, ’n neef van Bárnabas, Kol. 4:10; in wie se moeder se huis die apostels vergader het, Hand. 12:12, ’n metgesel van Paulus en Bárnabas, Hand. 12:25, oor wie daar tussen Paulus en Bárnabas verbittering ontstaan het, Hand. 15:37, 39, maar wat daarna weer by Paulus gekom het, soos ’n mens kan aflei uit Kol. 4:10. 2 Tim. 4:11. Fil. vers 24, en ook ’n getroue dissipel was van die heilige apostel Petrus, wat hom sy seun noem, 1 Petr. 5:13; hoewel sommige meen dat dit twee verskillende persone was, en dat hierdie Evangelie geskryf was deur die een wat Petrus sy seun noem. Die kerkvaders getuig dat hy daarna die Evangelie geleer het in die skool te Alexandrië in Egipte. Sien Eusebius, Historia Ecclesiastica. Hiëronimus, praefatio in Marco.

INHOUD VAN HIERDIE BOEK.

DIE inhoud van hierdie boek, of van hierdie Evangelie, is dieselfde as die Evangelie van Matthéüs, wat Markus skynbaar in ’n korter uiteensetting saamvat. Hy beskryf dus hoe die Here CHRISTUS sy amp op die aarde bedien het. Ten aanvang hoe Hy sy profetiese amp bedien het, waarin Hy Johannes die Doper as voorloper gehad het om die weg vir Hom te berei, deur wie Hy gedoop word. En hoe Hy, nadat Hy die versoeking van die Satan oorwin het, begin het om die evangelie te verkondig, en hoe Hy vier dissipels roep, ’n onreine gees uitdryf; Petrus se skoonmoeder genees van die koors en baie ander van hulle siektes genees; ’n melaatse reinig, hfst. 1. Dat Hy ’n verlamde man genees; Matthéüs tot apostel roep; sy dissipels verdedig omdat hulle nie vas nie, en omdat hulle op die sabbat are gepluk het, hfst. 2. Dat Hy ’n man genees wat ’n verdorde hand gehad het; dat ’n groot menigte Hom volg; dat Hy twaalf tot apostels roep; die waarheid van sy wonderwerke teen die lastering van sy vyande verdedig; leer wie sy vriende is, hfst. 3. Dat Hy deur ’n gelykenis van die saad leer hoe ’n mens God se Woord met vrug moet hoor en dit in die openbaar verkondig; en hoe dit gaandeweg toeneem, soos opgroeiende saad; en soos ’n mosterdsaad; dat Hy ’n storm stilmaak, hfst. 4. ’n Legioen duiwels uitdryf; die dogter van Jaïrus uit die dood opwek en ’n bloedvloeiende vrou genees, hfst. 5. Dat Hy in Násaret leer en sy apostels uitstuur om die evangelie te verkondig; wat Herodes, wat Johannes onthoof het, oor CHRISTUS gedink het; hoe Hy vyfduisend manne met vyf brode en twee visse voed; op die water loop en by sy dissipels kom, en baie siekes genees, hfst. 6. Hoe Hy die Fariseërs bestraf dat hulle met hul insettinge die wet van God tot niet maak, en leer wat die mens ontreinig; die duiwel uit die dogter van ’n Siro-Feniciese vrou dryf; ’n doofstomme genees, hfst. 7. Dat Hy weer vierduisend met sewe brode en ’n paar vissies voed; weier om die Fariseërs ’n teken te gee; sy dissipels vermaan om bedag te wees op die suurdeeg van die Fariseërs en van Herodes; ’n blinde laat sien; sy lyding vooruit aankondig en sy dissipels vermaan tot lydsaamheid, hfst. 8. Hoe Hy op die berg voor drie dissipels sy heerlikheid vertoon; en hulle oor die koms van Elía onderrig; ’n stom en dowe gees uitdryf; weer sy lyding vooruit aankondig, en sy dissipels vermaan tot nederigheid, weldadigheid en vermyding van struikelblokke, hfst. 9. Voer ’n twisgesprek met die Fariseërs oor egskeiding; seën die klein kindertjies; gee antwoord aan iemand wat deur sy eie geregtigheid die saligheid gesoek het, wat hy dan moes doen. Leer hoe hinderlik die rykdomme vir die saligheid is; belowe die ewige lewe aan dié wat hul rykdomme om sy ontwil sal aflê; kondig nog ’n keer sy lyding vooruit aan; verwerp die versoek van die seuns van Sebedéüs; vermaan sy dissipels tot nederigheid; herstel die blinde Bartiméüs se sig, hfst. 10. Dat Hy sy koninklike intog in Jerusalem maak; ’n vyeboom vervloek; die tempel van die kopers en verkopers reinig, en Hom daaroor verantwoord; sy dissipels vermaan tot geloof, en om mekaar te vergewe, hfst. 11. Dat Hy die Jode hul ondankbaarheid aanwys deur die gelykenis van die landbouers wat die diensknegte en ook die seun van die eienaar van die wingerd geslaan en doodgemaak het; leer dat ’n mens aan die keiser belasting moet betaal; en dat ’n mens ná die opstanding nie sal trou nie; leer wat die grootste gebod is; dat Hy nie net die seun nie, maar ook die Here van Dawid is; vermaan om die sedes van die Fariseërs te ontvlug; prys die geringe aalmoes van ’n arm weduwee, hfst. 12. Kondig die verwoesting van die tempel vooruit aan, en die ellendes wat dit sou voorafgaan en die swaarheid daarvan; kondig ook sy koms om te oordeel vooruit aan en dat die tyd daarvan onbekend is; en vermaan tot waaksaamheid en gebed, hfst. 13. Dat die owerstes van die Jode beraadslaag om Hom te vang, met wie Judas ooreenkom om Hom oor te lewer. Dat Hy gesalf word, die pasga met sy dissipels hou; aan wie Hy die verraaier openbaar; met hulle die heilige nagmaal hou; sy lyding, sterwe en opstanding, ook die vlug van die dissipels en Petrus se verloëning vooruit aankondig; sy lyding in die tuin begin met baie groot benoudheid en vurige gebed; dat Hy verraai, gevang, na die hoëpriester gelei, ondervra, met valse getuies belas en ter dood veroordeel word; dat Petrus Hom drie maal verloën, hfst. 14. Hoe Hy oorgelewer word aan die goewerneur Pilatus, wat Hom ondervra, en teen Barábbas stel om Hom los te laat, en uiteindelik laat gésel en kruisig; hoe Hy sy kruis dra en daaraan vasgespyker word, saam met twee rowers; aan die kruis bespot word, sterf en begrawe word deur Josef van Arimathéa, met toestemming van Pilatus, hfst. 15. Dat Hy op die derde dag in die oggend vroeg uit die dood opgestaan het, en sowel deur ’n engel, as deur sy verskynings, enkele godsalige vroue en sy dissipels daarvan verseker het; en, nadat Hy sy apostels opdrag gegee het om die evangelie deur die hele wêreld te verkondig met die belofte van die gawe om wonders te doen, na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God gaan sit het. Dat die apostels hul amp begin het en Hy sy belofte volbring het, hfst. 16.