Statevertaling – Bybelstigting

agtergrond

Hoe sal ons kinders – in die geslagte – weet, as ons hulle nie daarvan vertel nie? Hoe betroubaar weet, indien hulle nie vir hulself kan lees nie?

Die Nederlandse Statebybel met verklarende aantekeninge verskyn in die jaar van onse Here, 1637. Alreeds in 1638 plaas die Deputati ad res Indicas van die klassis Amsterdam die Statebybel op die boekelys vir sieketroosters van die VOC. So raak die epogmakende Statebybel met verklarende aantekeninge reeds vir Suidelike Afrika en in die besonder vir die Afrikaanse taalgemeenskap belangrik. Trouens, Kaap die Goeie Hoop (Cabo da Boa Esperança) begin in 1652 met die Statebybel as ’t ware in die hand. Die Staatsargief te Kaapstad het dan ook vir baie jare ’n Statebybel van 1672 bewaar, in oktavo-formaat, spesiaal gedruk vir die VOC – saam ingebind met De CL Psalmen Davids, uyt den Francoyschen in Nederlandschen. Ruim 300 jaar, vanaf 1652 tot ongeveer 1957, was die Statebybel met verklarende aantekeninge hier in Suidelike Afrika, vir die Nederlands-Afrikaanse Christen ʼn klassiek-gereformeerde Studiebybel.

Dit is waar Afrikaanssprekende Christene vandaan kom. Ingeligte mense kan nou in die Afrikaanse taal skouers skuur met ons voorgeslagte se Christelike nalatenskap. Elke “nuut” van ons dag kan geplaas word naas die vertroude “oud” van ons erfenis, met die vraag: “Wat is getrou aan God se Woord?” Die Afrikaanse weergawe kan boonop vergelyk word met die Nederlandse weergawe, asook die Engelse (Haak) vertaling daarvan. So kan eerlike afweging bepaal waarmee om saam te stem en te verskil.

Lig in Duisternis Uitgewers is die amptelike verspreider van Die Nuwe Testament met die kanttekeninge 1933/53 vertaling. Besoek Lig in Duisternis se webwerf hier om ‘n voorafbestelling te plaas.

medewerkers

Redaksie

Prof. J. (Johan) Bosman van die Afrikaanse Protestantse (AP) Akademie het reeds in 2010 ʼn oproep versorg om die aantekeninge by die Statevertaling in Afrikaans oor te sit. Pas ná kontak en samewerking met ds. J.A. (Jan) Weststrate, vind daardie oproep in die beskikking van die HERE ʼn duidelike gevolg. Behalwe leraar van die Gereformeerde Gemeenten in Nederland (GGiN), werksaam in Silverton, Pretoria, was ds. Weststrate op daardie stadium reeds hoofbestuurslid van die Gereformeerde Bijbelstichting (GBS) in Nederland. Ná maandelange voorbereiding, skop die vertaalprojek toe amptelik af op 31 Januarie 2017, gedenkjaar van die groot kerkreformasie (1517).

Die redaksie bestaan uit sewe lede: Prof. dr. J.A.E. (Koos) Adendorff, Prof. dr. J. (Johan) Bosman, Ds. J.A. (Jan) Weststrate (PhD). Uit die geledere van die leesgroepe ook Cor Boer en Joost van den Bosch (Gereformeerde Gemeente in Nederland, te Silverton) asook Jan Breeweg (Gereformeerde Gemeente Randburg). Marianne Elsenaar tree op as Afrikaanse taalkundige. Ook emeritus prof. dr. Roelof Marè van die AP Akademie het vir ’n tyd lank pre-redaksioneel gehelp met proeflees voordat die redaksie die resultate oorweeg het. Uit Nederland is die redaksie en leeskommissie bedien met advies deur dr. C.C. (Christiaan) Bremmer (M.A.) van die Gereformeerde Bijbelstichting. Hy is ʼn gespesialiseerde kenner van die Statebybel met verklarende aantekeninge, bygestaan deur sy wetenskaplike medewerkers, Sam Zwemer.

Vertaalspan

In Nederland het die gebruik ontstaan om te praat van ʼn “regterflank” van die gereformeerd-gesindes. Dit is mense uit verskillende kerklike gemeenskappe wat met hartlike, deurleefde oortuiging die gereformeerde belydenisse onderskryf. Hier in Suid-Afrika praat en dink ons nie juis so nie. Daarom is dit ’n bron van groot dankbaarheid dat daar plaaslik verteenwoordiging van so ’n regsinnige “regterflank” uit verskillende kerklike gemeenskappe gevind kon word. Van elke vertaler is verwag om sowel in Afrikaans as in Nederlands leesvaardig te wees. Ook is verwag om bekwaam te wees in die grondtale van die Bybel, sodat die geldigheid van vertaalkeuses vergelyk en nagegaan kon word. Seker die belangrikste vereiste was ’n geloofwaardige kennis, verstaan en hantering van die gereformeerde erfenis wat in die aantekeninge by die Statevertaling aan ons oorgelewer is.

Prof. dr. Gerrit Smit (AP Kerk) en Dr. Gerard Meijer (GKSA) het die leeueaandeel van die vertaalproewe gedoen. Ds. Slabbert le Cornu (GKSA) en dr. Hannes Breytenbach (Vrye Geref. Kerke) het elk ’n forse deel bygedra. Dr. Barend Hefer (GPK) en dr. Gert Duursema (NGK/VGK) het elk ’n beduidende bydrae gelewer. Mnr. Hannes Noëth (voorheen leraar van die GKSA, deesdae by Helpende Hand) en dr. Lourens Erasmus (NGK) het aanvanklik ook gehelp.

Leeskommissie

Teen die einde van die 20e eeu het die Statevertaling met verklarende aantekeninge in Suid-Afrika bykans in totale onbruik verval. Dit was voorwaar ’n beskikking dat die lidmate van die Gereformeerde Gemeente te Randburg, asook die Gereformeerde Gemeente in Nederland te Silverton, Pretoria, nog tydens eredienste en by huisgodsdiens daarvan gebruik maak. Die so nodige bydrae van hierdie lesers verleen aan die vertaalproses ʼn lidmaatperspektief. Bekendheid met die daaglikse gebruik van die verklarende aantekeninge stel die hele proses in staat om eietydse lesers te dien sonder groot verlies aan die historiese karakter van die aantekeninge.

PROSES

Uitgangspunt vir die Afrikaanse verklarende aantekeninge is die 1933/53 Afrikaanse Bybelvertaling. In Afrikaans is dit die vertaling wat die naaste aan die ou Statevertaling uit 1637 staan. Trouens, daar was selfs ʼn opdrag en doelbewuste poging om, hoewel uit die grondtale vertaal, ten nouste by die Statevertaling aan te sluit (vgl. Totius, Versamelde Werke 1, 1977:145; P.J. Nienaber, Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling, 1934:119-127). As redes daarvoor is aangegee: (1) Die Statevertaling is onder die Afrikaanse bevolking die gesaghebbende vertaling; (2) Die woorde en klanke van die Statevertaling is vir die grootste gedeelte by ons volk geliefd. Slegs noodsaaklike afwyking en wel sonder willekeur was toegestaan, met behoorlike rekenskap wat van “vastheid en wetenskaplikheid” kan getuig. Dikwels is die kommentaar en alternatiewe voorstelle van die Statevertalers in die verklarende aantekeninge in die 1933/53 Afrikaanse vertaling verwerk.

Tog word alle moontlike vertaalverskille met die Statevertaling opnuut gekontroleer. Verder ook alle ander inligting, soos byvoorbeeld die geografiese, historiese en teologiese. “Nuut” of “anders” beteken nie noodwendig “meer getrou” nie. Om te mag bou op hierdie klassieke erfenis, gee moed vir bestryding teen die heidendom wat die Afrikaanssprekende teenswoordig so oorval.