DIE BRIEF VAN DIE APOSTEL
PAULUS AAN FILÉMON
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
ONÉSIMUS, ’n slaaf of dienskneg van Filémon (wat skynbaar ’n leraar in die gemeente van Kolosse was, verse 1, 17, 23. Kol. 1:7; 4:9, 12, 17), het van sy heer weggeloop, en het ook iets van hom ontvreem; wat, nadat hy deur Paulus in Rome in sy gevangenskap tot die Christelike geloof bekeer was, volgens dieselfde leer, weer wou terugkeer na sy heer, en om hierdie rede het hy van Paulus ’n brief van aanbeveling aan sy heer versoek, om des te beter met hom te versoen en in genade aangeneem te mag word. Om hierdie rede het die apostel hierdie brief geskryf, waarin hy ná die opskrif en die groet in die eerste drie verse, met ’n gepaste inleiding, om die guns van Filémon te wen, in vers 4 sy liefde vir hom beskryf, 5 en die deugde van Filémon, vernaamlik sy liefde vir die gelowiges en sy geloof in CHRISTUS, 8 verklaar dat hy hom nie iets wil beveel nie, alhoewel hy wel by magte is, maar dat hy vriendelik by hom pleit. 10 Daarna pleit hy by hom, deur aan te dui dat dit eerlik, 11 vir hom nuttig, 12 en enigsins noodsaaklik was. 15 Hy verontskuldig Onésimus se misdaad van drostery, aangesien dit ’n geleentheid was tot sy bekering, waardeur hy nou ook ’n broeder geword het. 18. En stel homself as borg dat die skade op sy rekening sou kom. 20. En sluit uiteindelik met baie oorredende woorde sy versoek af. 22 Terwyl hy daarby voeg dat hy vir hom herberg moet berei. 23 Groet hom namens sommige besondere mede-arbeiders, 25 en gee daarby ook sy gewone groet.