DIE EERSTE ALGEMENE BRIEF VAN DIE
APOSTEL PETRUS
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
Die apostel Petrus, omdat hy vernaamlik sy apostelamp onder die besnydenis bedien het, Gal. 2:9, skryf hierdie brief aan die gemeentes van die verstrooide Jode wat in Pontus, Galásië, Kappadócië, Asië en Bithínië tot die geloof in CHRISTUS gebring was; met die doel om hulle aan die een kant in die waarheid wat hulle aangeneem het, te versterk, en aan die ander kant om hulle tot hul verskuldigde plig te vermaan, soos hy in hfst. 5:12 betuig. Hierdie brief bestaan in die besonder uit die volgende dele: Eerstens, ná die opskrif van die brief wat in die eerste twee verse vervat is, gee die apostel ’n kort verklaring van die evangeliese leer en beskryf die vernaamste weldade wat ons deur CHRISTUS verwerf, tot vers 13 van die eerste hoofstuk. Daarna, uit die oordenking van die verlossing wat deur CHRISTUS teweeggebring is, vermaan hy hulle tot ’n Christelike wandel, sowel in die algemeen tot vers 13 van die tweede hoofstuk, as in die besonder, naamlik vir die onderdane tot gehoorsaamheid aan hul owerhede, die diensknegte tot gehoorsaamheid aan hul here en die getroude vroue en manne tot hul onderlinge verskuldigde plig, tot vers 8 van die derde hoofstuk, van welke agtste vers en verder hy weer terugkeer tot die algemene vermaninge, en in die besonder van liefde, lydsaamheid en matigheid tot die einde van die vierde hoofstuk. In die begin van die vyfde hoofstuk vermaan hy die ouderlinge oor hul verskuldigde plig in die versorging van die kudde, en die jongmanne oor hulle plig, en albei tot nugterheid en om te waak teen die duiwel, tot vers 10 toe. Daarna sluit hy die die brief af met ’n ernstige gebed tot God vir hulle en met onderlinge groete.