Statevertaling – Bybelstigting

Romeine

DIE BRIEF VAN DIE APOSTEL PAULUS

AAN DIE ROMEINE

Spring na die lys van die boek name

INHOUD VAN HIERDIE BRIEF.

HIERDIE brief is deur die apostel Paulus uit Korinthe aan die gemeente van CHRISTUS in Rome geskryf, om haar in die leer van die heilige evangelie, teen alle dwalinge, skeuringe en ergernisse wat verrys het, te versterk. Dit bevat ’n kort en bondige verklaring van die vernaamste hoofsake van die Christelike godsdiens, en van al die weldade wat ons in CHRISTUS en deur CHRISTUS van God ontvang. Waarom hierdie brief met reg beskou word as ’n sleutel van die regte verstaan van die hele Heilige Skrif; en in die besonder van die regte verstaan van die vervulling van die beloftes wat aan die volk van Israel deur Moses en die Profete gemaak is, tot saligheid van Jode sowel as heidene. Dit het drie dele (soos ook die meeste van die briewe wat volg): ten eerste ’n inleiding, tot die 16de vers van hfst. 1; ten tweede die uiteensetting van die leer, vanaf die 16de vers tot by die 14de vers van hfst. 15; ten derde en daarna die slot van die brief, van daar af tot die einde toe. Die uiteensetting van die leer van die saligheid het weer verskeie onderdele: I. Oor die regverdigmaking van die mens voor God, nie deur die werke nie, maar deur die geloof in JESUS CHRISTUS, handel hy vanaf die 16de vers van hfst. 1 tot aan die einde van die 5de hfst. II. Oor die heiligmaking of vernuwing van die mens handel hy vanaf die begin van die 6de hfst. tot die begin van die 7de, waarin hy die stryd beskryf wat diegene wat reeds vernuwe is, nog teen die vlees het; soos in die 8ste hfst. die oorwinning wat die nuutgemaaktes deur die Gees oor die vlees het, en die troos en die sekerheid van hul saligheid, wat hulle hieruit put, selfs te midde van alle kruis en vervolging. III. Oor die ewige verkiesing van God, as ’n oorsprong en fontein van al hierdie weldade, handel hy in die 9de hfst. tot die 24ste vers daarvan. IV. En van daar af verder oor die kragtige roeping van God volgens hierdie verkiesing, sowel van heidene as van Jode, tot die einde van hfst. 11. By hierdie geleentheid handel hy tussenin ook oor die verwerping. In hfst. 12-15 handel hy oor die pligte van die liefde en die dankbaarheid, wat ons aan God vir hierdie weldade verskuldig is, sowel ten opsigte van die gehoorsaamheid aan die gebooie van God in die algemeen, in die 12de en 13de hfst., as ten opsigte van die regte hantering van middelmatige sake, en die verdra van diegene wat in die kennis van die Christelike vryheid nog swak is, in die 14de hfst. en in die eerste dertien verse van hfst. 15, van waar af die slot van hierdie brief volg, wat bestaan uit ’n verontskuldiging van sy vrymoedigheid in die skrywe en vermaning, met ’n belofte van sy koms na hulle toe, en verskeie groete aan enkele persone; en ten laaste met ’n danksegging en gebed vir hulle tot God. Sodat die apostel in die uiteensetting van die leer dieselfde orde volg wat in die Kategismus van die gereformeerde kerke gevolg word.