Statevertaling – Bybelstigting

Filippense

DIE BRIEF VAN DIE APOSTEL PAULUS

AAN DIE FILIPPENSE

Spring na die lys van die boek name

INHOUD VAN HIERDIE BRIEF.

DIE apostel Paulus, wat in ’n goddelike gesig deur ’n Macedóniër vermaan is dat hy die evangelie in Macedónië moes verkondig, het dit in Filíppi begin, en nadat hy daar ’n gemeente gestig het, het hy uit sy boeie in Rome hierdie brief aan hulle gestuur deur Epafrodítus, om hulle in die geloof te versterk, hfst. 2:25. Vir welke doel hy, ná die opskrif, eerstens die Filippense prys oor hul standvastigheid in die geloof, nieteenstaande sy boeie en verdrukkinge, met die vrug daarvan, soos hy beskryf het; en verklaar daarna, hoewel hy liewer wou sterf en by CHRISTUS wees, dat hy nogtans vertrou het dat hy nog ’n tyd lank in die lewe sou bly tot hul diens en beswil, hfst. 1. Vermaan hulle verder tot allerlei Christelike deugde, vernaamlik tot lydsaamheid, standvastigheid, eenheid en nederigheid, met die voorbeeld van CHRISTUS, wat in die gedaante van God was, maar Homself verneder het tot die dood van die kruis; en voeg daarby ’n aanbeveling van Timótheüs en Epafrodítus, hfst. 2. Daarna waarsku hy hulle teen die valse apostels wat die wet en die evangelie vermeng en leer dat die saligheid verkry moes word deur die onderhouding van die wet, naas die geloof in CHRISTUS; waarteenoor hy sy voorbeeld, en geloof op CHRISTUS alleen, stel om na te volg, hfst. 3. En nadat hy twee vroue daar tot vreedsaamheid vermaan het, voeg hy daarby weer ’n algemene vermaning tot verskillende Christelike deugde; en prys eindelik die milddadigheid wat die gemeente van die Filippense aan hom betoon het ten opsigte van sy onderhoud; en daarop sluit hy die brief af met die gebruiklike groete, hfst. 4.