Statevertaling – Bybelstigting

Jakobus

DIE 1ALGEMENE BRIEF 2VAN DIE

APOSTEL 3JAKOBUS

Spring na die lys van die boek name

1 Hierdie en die volgende briewe word deur die ou Griekse kerkvaders katholikai genoem, dit is, algemene, omdat hulle nie aan spesifieke kerke geskryf is, soos die briewe aan die Romeine, Korinthiërs, Efésiërs, ens. nie, ook nie aan spesifieke persone, soos die briewe aan Timótheüs, aan Titus en aan Filémon nie; maar in die algemeen aan alle gelowiges, vernaamlik Jode. Hoewel dit nie van toepassing is in die tweede en derde brief van Johannes nie.

2 Enkele ou Griekse leraars meen dat hierdie brief nie deur die apostel Jakobus geskryf sou wees nie, maar deur ’n Jakobus met die bynaam Justus en ook Oblias, een van die sewentig dissipels van Christus, wat deur die apostels as ’n opsiener in die kerk van Jerusalem aangestel sou wees. Maar die meeste van die opskrifte en titels van die Griekse manuskripte het die titel apostel; en dit is nie waarskynlik dat ’n dissipel, terwyl die apostels nog geleef het en aan wie so iets eintlik toegekom het, aan al die kerke sou geskryf het nie.

3 Daar was onder die apostels twee Jakobusse, Matt. 10:2, 3, een wat ’n seun van Sebedéüs en ’n broer van Johannes was, Matt. 4:21. Mark. 1:19, wat deur Herodes omgebring is, Hand. 12:2, en een wat die seun van Alféüs was, wat in die sinode te Jerusalem vernaamlik die woord gevoer het, Hand. 15:13. Een van hulle twee het hierdie brief geskryf. Dat dit nie deur die eerste gedoen is nie, is waarskynlik, omdat hy al vroeg, voordat die apostels begin het om te skryf, omgebring is, sien Hand. 12:2 se kanttekening.

INHOUD VAN HIERDIE BRIEF.

DIE apostel Jakobus, aangesien hy hierdie brief geskryf het aan die gelowige verstrooide Jode, wat die Christelike leer teen hierdie tyd al geleer en aangeneem het, bespreek hier nie soseer die hoofsake van die Christelike leer, soos ander wel doen nie, maar omdat sommige onder hulle deur die swaar vervolging begin het om te verflou en ook sommige onder hulle die Christelike geloof nie reg uitgeleef het nie, is sy vernaamste oogmerk in hierdie brief, deels om hulle te vertroos en te versterk teen die vervolginge en verdrukkinge; en deels om hulle te vermaan dat hulle by die belydenis van hulle geloof ’n godsalige en Christelike lewenswandel moet voeg. Tot watter doel hy, ná die opskrif, hulle eerstens vermaan tot lydsaamheid in die kruis, wat gewoonlik volg op die belydenis van die geloof en leer watter vrugte daaruit voortkom; dat die ware wysheid van God af kom en van Hom afgebid moet word. Dat wanneer iemand tot sonde verlei word, dit nie van God af kom nie, maar deur sy eie begeerlikheid; dat ’n mens God se Woord nie net moet hoor nie, maar ook moet doen; en waarin die ware godsdiens bestaan, hfst. 1. Daarna vermaan hy dat ’n mens die persoon van die ryke nie moet aansien tot veragting van die arme nie; en leer dat die geloof, waardeur ons geregverdig en salig word, vergesel moet wees van goeie werke en daardeur toon dat dit ’n ware en lewende geloof is, hfst. 2. Verder bestraf hy in die besonder diegene wat ligvaardig ander wil leer en bestraf; vermaan om die tong te bedwing, terwyl hy die slegte en regte gebruik daarvan aantoon. En leer dat die ware wysheid bestaan in sagmoedigheid en vreedsaamheid, en in die aflê van nydigheid en twis, hfst. 3. Daarby vermaan hy hulle om ernstig te vlug van die slegte begeertes, terwyl hy die skadelike vrugte daarvan aantoon; om hulle te verneder en van harte te bekeer, en nie kwaad van mekaar te spreek nie. Bestraf ook diegene wat in hul voorneme om iets te doen, nie sien op die voorsienigheid van God nie, hfst. 4. Laastens dreig hy die rykes wat hul rykdom misbruik en die armes veronreg ernstig, en vermaan die armes met baie redes om die verontregting van die rykes in lydsaamheid te verdra; vermaan teen onbesonne eedswering; leer die verdruktes en siekes wat hulle tot hul troos moet doen en hoe ’n mens hom moet gedra, beide in blydskap en droefheid; asook teenoor diegene wat van die waarheid afdwaal.