DIE HEILIGE EVANGELIE VOLGENS
1LUKAS
Spring na die lys van die boek name1 Lukas was van beroep of professie ’n geneesheer, Kol. 4:14, en ’n gedurige metgesel van die apostel Paulus op sy reise, ook toe hy as gevangene na Rome gebring was; soos afgelei kan word uit Hand. 20:6; 21:15; 27:1; 28:14, 16. Sommige meen ook dat dit hy is van wie die apostel in 2 Kor. 8:18, 19 spreek. Oor hom word ook melding gemaak in 2 Tim. 4:11. Fil. vers 24. Hy het twee boeke geskryf, naamlik hierdie Evangelie en die Handelinge van die Apostels.
INHOUD VAN HIERDIE BOEK.
HIERDIE boek bevat dieselfde inhoud as die voorgaande, behalwe dat Lukas nog enkele besondere sake beskryf, wat nie deur die ander evangeliste genoem is nie. Ná die voorrede beskryf hy die ouers en ontvangenis van Johannes die Doper, en die ontvangenis van CHRISTUS, wat deur die engel Gabriël aan Maria verkondig is, wat daaroor met die engel gesprek voer, en daaroor met haar bloedverwant Elisabet spreek, en God met ’n lofsang prys; beskryf die geboorte en besnydenis van Johannes die Doper, en die lofsang wat sy vader Sagaría daaroor tot God gesing het, hfst. 1. Daarna wanneer, waar en deur wie CHRISTUS gebore is, en hoe sy geboorte deur die engele aan die herders geopenbaar is; sy besnydenis en voorstelling in die tempel, waar Hy deur die bejaarde Símeon omhels word, met ’n lofsang en voorsegging, en deur Anna, die profetes, bely word; sy opgroei en sy optrede, toe Hy slegs twaalf jaar oud was, met die leraars in die tempel, hfst. 2. Wanneer en hoe Johannes die Doper sy dienswerk begin het, met doop en onderrig, deur die hele volk vrymoedig te vermaan en na CHRISTUS te wys; hoe hy CHRISTUS gedoop het, wie se geslagsregister Lukas ook beskryf, hfst. 3. Hoe CHRISTUS Hom met vas vir sy amp berei het, en die versoeking van die duiwel oorwin het; sy leeramp begin het in Galiléa, en in Násaret, waar Hy gewoon het, uit die profeet Jesaja bewys het dat Hy die beloofde Messías was; waaroor Hy uit die stad verdrywe is; dat Hy in Kapérnaüm geleer het, en ’n onreine gees uitgedryf het, die skoonmoeder van Petrus van die koors, en baie ander siekes en besetenes genees het; en verder gaan preek het in ander stede, hfst. 4. Dat Hy Simon Petrus, Jakobus en Johannes, ná ’n wonderbaarlike visvangs, tot apostels geroep het; ’n melaatse gereinig en ’n lamme, wat deur die dak neergelaat is, genees het; dat Hy Matthéüs uit die tolhuis tot apostel geroep het, en hoe Hy Hom verantwoord het, omdat Hy saam met die tollenaars en sondaars geëet het, en sy dissipels omdat hulle nie gevas het nie, hfst. 5. Asook dat hulle op die sabbat are gepluk het; en dat Hy op die sabbat ’n verdorde hand genees het; dat Hy twaalf apostels uitgekies het; voor wie Hy, asook voor die hele skare, ’n treffende rede lewer, waarin Hy die apostels hul geluksaligheid en die goddeloses en huigelaars hul sondes en strawwe uitwys, hfst. 6. Dat Hy die dienskneg van ’n hoofman in Kapérnaüm, wat op sterwe gelê het, gesond gemaak het; en ’n seun, wat in Nain gesterf het, uit die dood opgewek het; wat Hy vir die dissipels wat deur Johannes die Doper na Hom gestuur is, geantwoord het, en welke getuienis Hy oor Johannes gegee het voor die volk; hoe Hy kla oor die hardnekkigheid van die Jode; en ’n sondares, in die huis van Simon, ’n Fariseër, wat oor haar sondes geween het, dit vergewe het, hfst. 7. Dat Hy verder in die ander stede gaan preek het, vergesel van die apostels en enkele vroue; en deur die gelykenis van die gesaaide saad leer hoe ’n mens God se woord moet hoor; en van ’n lamp, hoe ’n mens dit moet preek; wie sy moeder en broers is; dat Hy ’n groot storm stilmaak op die see; ’n baie bose onreine gees uitdryf; ’n bloedvloeiende vrou genees, en Jaïrus se dogtertjie uit die dood opwek, hfst. 8. Dat Hy sy apostels uitgestuur het om te preek, met die mag om die duiwels uit te dryf; dat Herodes begeer het om Hom te sien; dat Hy vyfduisend manne met vyf brode en twee visse gevoed het; dat Hy sy dissipels vra hoe die volk oor Hom geoordeel het; dat Hy sy lyding vooruit aankondig; leer wat diegene moet doen wat sy dissipels wil wees; dat Hy op die berg voor drie dissipels ’n bewys van sy heerlikheid gee; en ’n onreine gees uit ’n kind uitdryf, wat sy dissipels nie kon uitdryf nie; weereens sy lyding vooruit aankondig; die dissipels bestraf oor hul eergierigheid en wraakgierigheid teen die Samaritane; en leer hoe ’n mens Hom moet volg, hfst. 9. Dat Hy nog sewentig ander dissipels uitgestuur het om te preek; en die stede gedreig het wat die evangelie sou verwerp; dat die dissipels met blydskap terugkeer; vir wie Hy gelukkig verklaar omdat hulle hierdie tyd beleef het; hoe Hy antwoord gee aan ’n wetgeleerde, wat gevra het wat hy sou moet doen om die ewige lewe te verkry, en met die gelykenis van ’n Samaritaan geleer het wie ons naaste is; dat Hy deur twee susters, Martha en Maria, in hul huis ontvang is, van wie Hy die een bestraf en die ander prys, hfst. 10. Dat Hy sy dissipels geleer het om te bid, en met die gelykenisse van ’n vriend en vader beloof dat hulle verhoor sal word; dat Hy met die gelykenis van ’n sterk gewapende man bewys dat Hy die duiwels nie uitgewerp het deur Beëlsebul nie; die volk leer dat die Nineviete en die koningin van die Suide diegene sal veroordeel wat sy evangelie sal verwerp; die Fariseërs en skrifgeleerdes bestraf oor hul geveinsdheid en vervolging van die profete, vir wie Hy ook met swaar strawwe dreig, hfst. 11. Dat Hy sy dissipels vermaan om die evangelie openlik te verkondig en vervolging nie te vrees nie; weier om ’n regter of deler oor ’n erfenis te wees; en vermaan die volk deur die gelykenis van ’n ryk man om teen gierigheid te waak, asook teen te groot besorgdheid oor die onderhoud van hierdie lewe; vermaan om aalmoese te gee, te bid en te waak teen sy koms, wat onverwags sal plaasvind; waarsku teen twis, wat onder die mense sal ontstaan as die evangelie verkondig sal word; en vermaan tot versigtigheid en versoenlikheid, hfst. 12. Net so tot boetvaardigheid deur enkele geskiedenisse en deur die gelykenis van ’n onvrugbare vyeboom; genees op die sabbat ’n vrou wat agttien jaar lank ’n gees van krankheid gehad het; verklaar die verbreiding van die evangelie deur die gelykenisse van ’n mosterdaad en suurdeeg; verkondig aan die huigelaars dat hulle uit die hemel uitgesluit en in die hel gewerp sal word; verwyt die inwoners van Jerusalem oor hul ongeloof en verkondig die stad se verwoesting, hfst. 13. Genees op die sabbat ’n man wat die water gehad het en verantwoord dit; vermaan tot nederigheid; leer wie ’n mens na die maaltyd moet uitnooi, vergelyk die koninkryk van God met ’n groot maaltyd, waarheen baie genooides nie wou kom nie; vermaan sy dissipels om die kruis te dra, bedagsaam te wees en alles te versaak, hfst. 14. Deur die gelykenisse van ’n verlore skaap en penning tot nougesetheid in hul amp, en deur die gelykenis van ’n verlore seun tot boetvaardigheid en verblyding daaroor, hfst. 15. Deur die gelykenisse van ’n onregverdige bestuurder tot weldadigheid, met verklaring van die vastigheid van die wet, in die besonder aangaande die deel oor die huwelik, en van ’n ryk, gierige man en van Lasarus, hoe verskillend die staat van die mense is, sowel in hierdie lewe as in die toekomende lewe, hfst. 16. Vermaan om struikelblokke te vermy en sy naaste te vergewe; beskryf die krag van die geloof; en leer dat God ons vergeld nie uit verdienste nie, maar uit genade; genees tien melaatses; leer hoe die mense hulle sal gedra as Hy sal kom om te oordeel, hfst. 17. Deur die gelykenisse van ’n weduwee en ’n onregverdige regter, dat ’n mens altyd moet aanhou in die gebed; en van ’n tollenaar en Fariseër, wat opgegaan het om te bid, wie deur God geregverdig sal word. Laat die kindertjies na Hom toe kom, en vermaan dat ’n mens soos hulle moet wees; hou die gebooie van God voor aan diegene wat deur die wet geregverdig wil word; waarsku hoe hinderlik die rykdomme vir die saligheid is; belowe vergelding aan diegene wat Hom bely; kondig sy lyding en opstanding vooruit aan; en genees ’n blinde man, hfst. 18. Dat Hy Saggéüs in Jérigo bekeer; deur die gelykenis van tien ponde vermaan om die gawes van God reg te bestee; hoe Hy sy koninklike intog in Jerusalem maak en oor dié stad ween, die kopers en verkopers uit die tempel uitjaag, hfst. 19. Hoe Hy die owerstes van die priesters en die skrifgeleerdes vra van waar die doop van Johannes is; deur die gelykenis van ’n verhuurde wingerd hul goddeloosheid aan hulle voorhou; op die vraag of ’n mens aan die keiser belasting moet betaal, antwoord; die opstanding van die dooies verdedig teen die Sadduseërs; en leer dat die CHRISTUS nie net die seun nie, maar ook die Here van Dawid is; en die volk waarsku om te waak teen die skrifgeleerdes, hfst. 20. Dat Hy die klein aalmoes van ’n arm weduwee prys; die verwoesting van die tempel vooruit aankondig, en die tekens wat dit asook sy wederkoms sal voorafgaan; oproep om te waak en te bid; en aanwys wat Hy toe in Jerusalem gedoen het, hfst. 21. Hoe Judas met die owerstes van die priesters onderhandel het om Hom oor te lewer in hul hande; hoe Hy die laaste pasga saam met sy dissipels gehou het, en in die plek daarvan die heilige nagmaal ingestel en saam met sy dissipels gehou het; die verraad van Judas vooruit aangekondig het; die dissipels oor hulle eergierigheid bestraf; en hulle ook vertroos, en met name Petrus teen sy val, wat Hy vooruit aankondig; die apostels versterk met die oog op hulle aanstaande swarighede; hoe Hy sy lyding begin het met die gebed in ’n tuin; deur Judas verraai is met ’n kus; en deur die gewapende soldate gevang en gelei word na die huis van die hoëpriester, waar Petrus Hom drie maal verloën, en Hy geslaan word; dat Hy voor die Raad gestel, en deur hulle ter dood veroordeel is, hfst. 22. Hoe Hy na die goewerneur Pilatus gelei is, wat, nadat hy Hom ondervra het, verklaar dat hy geen skuld in Hom gevind het nie; en deur hom gestuur is na Herodes, wat Hom bespotlik terugstuur; dat Pilatus probeer het om Hom met géselslae vry te laat, en deur Hom teen die moordenaar Barábbas te stel, waarin hy misluk het; en daarom Hom oorgee om gekruisig te word; hoe Hy sy kruis gedra het buite die stad, terwyl Hy deur Simon van Ciréne gehelp is, en op pad aan die vroue van Jerusalem hulle toekomende ellende vooruit aankondig; hoe en waar Hy saam met twee kwaaddoeners gekruisig is, en aan die kruis bespot en gelaster is, ook deur een van die kwaaddoeners wat saam met Hom gekruisig was, wat daaroor bestraf word deur sy metgesel, wat hom bekeer het. Dat Hy ná ’n groot verduistering in die middag sy gees gegee het; en deur ’n raadslid, Josef van Arimathéa, begrawe is, hfst. 23. Hoe Hy op die eerste dag van die week weer opgestaan het; en sy opstanding deur engele bekendgemaak is aan die vroue, wat gekom het om sy liggaam te salf; hoe Hy self Hom geopenbaar het aan twee dissipels, wat op pad was na Émmaüs, en daarna aan die elf dissipels wat byeen was, vir wie Hy aan sy hande en voete laat voel het; en met wie Hy geëet het; en nadat Hy aan hulle die Heilige Gees beloof het, in hul teenwoordigheid opgevaar het na die hemel, hfst. 24.