DIE TWEEDE BRIEF VAN DIE APOSTEL
PAULUS AAN DIE KORINTHIËRS
Spring na die lys van die boek nameINHOUD VAN HIERDIE BRIEF.
IN hierdie brief verdedig die apostel in die besonder sy leer en sy apostelskap teen die voorwendsels en lasteringe van die valse apostels. En ná ’n kort inleiding, vervat in die eerste sewe verse van die eerste hfst., verklaar hy in die res van die hfst. waarom hy, volgens sy belofte in die voorgaande brief, nog nie na hulle toe gekom het nie; naamlik nie uit enige ligsinnigheid nie, maar vanweë die sware vervolgings wat hom in Asië te beurt geval het; en omdat hy hulle tyd wou gee om die gebreke waaroor hy hulle vermaan het, te verbeter, sodat hy in vriendelikheid by hulle sou mag wees. In die 2de hfst. gee hy die rede vir sy harde skrywe oor die feit dat hulle die persoon wat bloedskande gepleeg het, duld en vermaan hulle dat hulle hom, vanweë sy leedwese en droefheid, weer sou troos en aanneem. In die 3de hfst. stel hy onderskeid tussen die leer van die valse apostels, wat die wet gedryf het, wat hy ’n letter wat doodmaak noem, en sy leer, wat ’n leer van die lewe en ’n diens van die Gees is. In die 4de hfst. verklaar hy dat hulle hierdie onderskeid onder hulle sodanig bevind het en dat sy evangelie nie bedek was nie, behalwe vir die wat verlore gaan; en bewys met sy eie voorbeeld hoe kragtig die Gees van CHRISTUS deur hierdie woord van die kruis is om alle swarighede met lydsaamheid te verdra. In die 5de hfst. betuig hy dat ons deur dieselfde leer en Gees van CHRISTUS beweeg word, om hierdie aardse tabernakel gewillig af te lê en na ’n beter lewe te verlang; en stel as fondament van hierdie verlange die leer van ons versoening met God deur die dood van CHRISTUS, waarvan die apostels boodskappers was. Waaruit hy in die 6de hfst. baie ernstige en kragtige vermanings tot lydsaamheid en godsaligheid rig; en stel dit in sy persoon voor, deur hulle aan die einde te waarsku teen die gemeenskap met die ongelowiges en afgodedienaars. In die 7de hfst. getuig hy oor die vergenoegdheid wat hy ontvang het in sy gemoed, toe hy verstaan het hoe hulle sy vermaning gedeeltelik aangeneem het, en oor die vorige gebreke leedwese getoon het. In die 8ste en 9de hfst. handel hy breedvoerig oor handreiking en aalmoese, uit watter grond dit moet voortkom en waartoe dit gerig moet word. En in die 10de hfst. oor sy geestelike gesag, wat hy nie tot verbreking nie, maar tot stigting ontvang het; waarby hy ’n apostoliese roem voeg, terwyl hy aantoon dat die valse apostels oor niks kon roem, waaroor hy nie oorvloediger kon roem nie, en dat hy daarin baie voordele bo hulle gehad het, tot die einde van die 11de hfst. In die 12de hfst. spreek hy oor die besondere openbarings wat aan hom deur CHRISTUS in die derde hemel gegee is, en getuig dat vir hom daarom ’n engel van die Satan in sy vlees gegee is tot sy vernedering; terwyl hy verder verklaar hoe hy as ’n getroue apostel van CHRISTUS onder hulle gewandel het, sonder om homself in iets te soek. Hy waarsku uiteindelik in die 13de hfst. diegene wat hardnekkig sou wees teen sy vermanings, en dreig hulle met sy apostoliese gesag, as hulle hul nie bekeer nie. Daarna sluit hy sy brief in die laaste drie verse af met ’n toewensing van alles wat goed is en met die gewone apostoliese groet, asook met ’n ernstige gebed vir hulle.