DIE HEILIGE EVANGELIE VOLGENS
1JOHANNES
Spring na die lys van die boek name1 Johannes was ’n seun van Sebedéüs en Salóme, Matt. 4:21; 10:2, en ’n broer van Jakobus, wat die bynaam Boanérges gehad het, Mark. 3:17; is deur Christus van ’n visser tot ’n apostel van Hom geroep, Matt. 4:21; 10:2, en deur Christus besonder bemin, Joh. 13:23; 21:20, waarom Hy hom saam met Petrus en Jakobus ook saam met Hom geneem het om enkele besondere wonders, sy heerlikheid op die berg en sy stryd in die tuin te aanskou, sien Matt. 17:1; 26:37. Mark. 1:29. Luk. 8:51, en het sy moeder aan sy sorg opgedra, toe Hy aan die kruis gehang het, Joh. 19:26, 27. Sien verder oor hom Mark. 9:2. Luk. 9:54. Hand. 1:13; 3:1; 12:2. Gal. 2:9. Die kerklike geskiedskrywers getuig dat hy die langste van al die apostels geleef het, oor die negentig jaar oud geword het, en in die honderd-en-tweede jaar ná die geboorte van Christus sou gesterf het; dat hy deur keiser Domitianus verban was na die eiland Patmos, Openb. 1:9, en onder keiser Nerva teruggekom het na Éfese. Sien Eusebius, Historia Ecclesiastica. Hiëronimus in Cat. Script. Eccl. Hy het hierdie Evangelie, drie briewe en die Openbaring geskryf.
INHOUD VAN HIERDIE BOEK.
HIERDIE Evangelie het ook dieselfde inhoud as die voorgaande; Johannes beskryf net ook enkele preke en gebede van CHRISTUS, asook enkele wonders, wat die ander evangeliste nie beskryf het nie. Die ou kerklike skrywers getuig dat hy hierdie Evangelie ná die ander evangeliste geskryf het, op versoek van die kerke van Asië, omdat onder hulle ontstaan het die ketterye van Ebion en Cerínthus, wat die Godheid van JESUS CHRISTUS ontken het; waarom hy ook sy Evangelie met die bewys daarvan begin het. Die evangelis Johannes beskryf dan ook eers die persoon en daarna die amp van CHRISTUS. Aangaande sy persoon, eerstens sy goddelike natuur, wat hy uit sy werke bewys, en daarna sy menswording. Aangaande sy amp, beskryf hy eerstens sy leeramp; dat Johannes die Doper die weg daarvoor vir Hom berei het, deur openlik te getuig en te bewys dat nie hy nie, maar JESUS die Lam van God en die beloofde Messías was; waardeur Andréas en Simon Petrus, sy broer, en Filippus in CHRISTUS geglo het en Natánael ook na Hom gebring word, en geglo het, hfst. 1. Dat CHRISTUS sy eerste wonder doen, deur die water in wyn te verander op ’n bruilof te Kana in Galiléa; dat Hy, toe Hy op die pasga in Jerusalem kom, die tempel reinig van die kopers en verkopers, en vir die Jode bewys dat Hy mag het om dit te doen, hfst. 2. Dat Hy Nikodémus, ’n Fariseër, in die hoofsake van die ware godsdiens onderrig het, vernaamlik oor die noodsaaklikheid en aard van die geestelike wedergeboorte van die mens, en oor sy verhoging aan die kruis, waarvan die koperslang ’n voorbeeld was, en oor die noodsaaklikheid en vrug van die geloof in Hom; dat Johannes die Doper, toe JESUS in Judéa gekom het, weer voor die Jode getuig het dat nie hy nie, maar JESUS die ware Messías was en dat ’n mens in Hom moes glo om salig te word, hfst. 3. Dat CHRISTUS, toe Hy weer na Galiléa reis en by Sígar kom, met ’n Samaritaanse vrou by die put gepraat het oor die lewende water, wat Hy vir die gelowiges gee, asook oor die plek en wyse van aanbidding; en dat sy en baie Samaritane in Hom geglo het; dat die Galiléërs Hom goed ontvang het en dat Hy in Kapérnaüm die seun van ’n koninklike beampte genees, hfst. 4. Dat Hy ’n man wat agt-en-dertig jaar in Jerusalem by die bad Betésda siek gelê het, op die sabbat met ’n woord genees het; waaroor die Jode Hom wou doodmaak, voor wie CHRISTUS Hom verantwoord, deur nie net met die getuienisse van Johannes nie, maar ook met sy werke en met die Skrif, vernaamlik wat deur Moses geskryf is, te bewys dat Hy die Seun van God was, hfst. 5. Dat Hy vyfduisend manne met vyf brode gevoed het; op die see geloop het; die skares bestraf omdat hulle Hom oor die brood gevolg het, deur hulle te vermaan om die brood van die lewe te soek, wat uit die hemel kom, waarvan die manna ’n voorbeeld was; en leer dat Hy daardie brood was, en dat ’n mens sy vlees moet eet en sy bloed drink; toe die inwoners van Kapérnaüm dit verkeerd verstaan het, verklaar Hy verder vir hulle dat sy woorde geestelik verstaan moet word, naamlik dat ’n mens in Hom moet glo; waarom sommige dissipels van Hom af weggegaan het, maar die twaalf het by Hom gebly, vir wie Hy sê dat een van hulle ’n duiwel was, hfst. 6. Dat sy broers Hom vermaan om op te gaan na die huttefees, wat Hy laat vooruittrek; wat die volk tydens die fees oor Hom gesê het; dat Hy, sowel ten tyde van die fees as op die einde daarvan, die volk geleer het dat sy leer die leer van die Vader was, wat baie geglo het, maar die Fariseërs teëgespreek het; en dat diegene wat in Hom geglo het, die Heilige Gees sou ontvang; dat daaroor twis ontstaan het onder die volk en die Fariseërs Hom probeer vang het, maar dat Nikodémus vir hom in die bres getree het, hfst. 7. Dat Hy ’n vrou wat in egbreuk betrap is, nie wil veroordeel nie; en vir die volk leer dat Hy die lig van die wêreld is en dat Hy nie van Homself getuig nie, maar die Vader wat Hom gestuur het; oortuig die Fariseërs dat hulle geen ware kinders van Abraham was nie, maar kinders en diensknegte van die duiwel, en dat Hy vóór Abraham was; waaroor hulle Hom wou stenig, hfst. 8. Dat Hy iemand wat blindgebore was, se oë geopen het; toe dit by die Fariseërs bekend geword het, het hulle hom ondersoek en omdat hy die waarheid vrymoedig erken het, het hulle hom gelaster en uitgeban; aan wie die Here Hom nog duideliker openbaar en die Fariseërs oor hul geestelike blindheid verwyt, hfst. 9. En leer dat die ware herders deur die deur moet ingaan; dat Hy die goeie herder is en geen huurling nie; dat Hy nog ander skape het, wat Hy moet lei; dat Hy gewillig sy lewe vir die skape stel; dat Hy tydens die fees van die tempelwyding deur sy werke bewys dat Hy die beloofde Messías was; en dat baie in Hom geglo het, hfst. 10. Dat Hy Lasarus van Betánië, wat reeds vier dae dood was, uit die dood opgewek het; waaroor die owerstes van die priesters raad gehou het om Hom dood te maak, uit vrees dat die volk in Hom sou glo; wat die hoëpriester Kájafas, terwyl hy onwetend profeteer, goedkeur, en dat die owerpriesters opdrag gegee het dat hulle Hom moes vang, as Hy by die fees sou kom, hfst. 11. Dat Hy in Betánië deur Lasarus en sy susters vir ’n maaltyd genooi word; waar Maria sy voete salf, wat Judas bestraf en Hy verantwoord; dat die Jode Lasarus wou doodmaak; dat Hy sy koninklike intog in Jerusalem maak, terwyl Hy op ’n esel ry; sy dood aan die dissipels vooruit aankondig; tot sy Vader bid, wat Hom met ’n groot stem antwoord; die skare vermaan om in sy lig te wandel; dat Jesaja tevore oor die hardnekkigheid van die Jode geprofeteer het; dat baie owerstes in Hom geglo het, maar nie gedurf het om dit te bely nie; sy vermaning om in Hom te glo, omdat Hy sy leer van die Vader ontvang het, hfst. 12. Dat Hy sy dissipels se voete gewas het en hulle daarmee vermaan, volgens sy voorbeeld, tot nederigheid en onderlinge diensbaarheid; kla dat een van hulle Hom sou verraai, vir wie Hy bekendmaak en bestraf; kondig aan sy dissipels vooruit aan dat Hy binnekort verheerlik sou word, en vermaan hulle tot liefde; en kondig Petrus se val vooruit aan, hfst. 13. Dat Hy sy dissipels onderrig oor waarheen Hy sal gaan, naamlik na die huis van sy Vader, en vir Filippus leer wie sy Vader was; belowe dat die Vader vir hulle alles sal gee wat hulle in sy Naam van die Vader sal vra; en dat Hy vir hulle die Heilige Gees sal stuur; en vermaan hulle om Hom en sy woord lief te hê, hfst. 14. Dat Hy Homself met ’n wynstok vergelyk en hulle met die lote, en hulle daardeur vermaan om vrugte in Hom voort te bring; en vernaamlik om mekaar lief te hê; hulle vertroos teen die haat en die vervolging van die wêreld en belowe hulle die Gees van die waarheid, hfst. 15. Kondig vooruit aan watter kwaad hulle alles sal oorkom deur die Jode en troos hulle oor sy vertrek, met die belofte van die Heilige Gees en sy krag, asook dat die lyding nie lank sal duur nie en in blydskap sal verander; en dat die Vader altyd hul gebed sal verhoor; kondig ook hul verstrooiing vooruit aan, hfst. 16. Daarna beskryf hy sy priesterlike amp; hoe ’n uitnemende gebed Hy tot sy Vader gebid het, eers vir Homself, dat die Vader Hom sou wil verheerlik, daarna vir sy elf apostels, dat Hy hulle teen die kwaad sou wil bewaar, en ook vir almal wat deur hul woord in Hom sou glo, dat hulle in eenheid mag bly en sy heerlikheid deelagtig word, hfst. 17. En verder beskryf hy CHRISTUS se lyding, wat Hy gely het in die tuin, waar Hy deur Judas verraai is, deur die soldate, wat Hy eers op die grond laat val, gevang is, sowel as in die huis van die hoëpriester Kájafas, waar Petrus Hom drie maal verloën, en Hy deur die hoëpriester ondervra word; en in die paleis voor die goewerneur Pilatus, wat ook, toe hy eers die Jode en daarna CHRISTUS ondervra het, geen skuld in Hom vind nie, en daarom probeer om Hom los te laat deur die middel dat hulle op die pasga ’n misdadiger losgelaat het; maar dat die volk begeer het om nie Hom nie, maar Barábbas los te laat, hfst. 18. Dat Pilatus Hom laat gésel en deur die soldate laat bespot het en Hom sodoende wou loslaat; maar dat die owerpriesters geskreeu het dat hulle Hom moes kruisig, wat Pilatus uiteindelik toegestaan het en Hom oorgelewer het aan die soldate, wat Hom gekruisig het, terwyl hulle sy beskuldiging bo sy hoof vasgemaak het en sy klere deur die lot verdeel het; dat sy moeder daarby gestaan het, wat Hy aan Johannes se sorg opdra; en nadat Hy asyn gedrink het, die gees gegee het, wat die rede is waarom sy beendere nie gebreek is nie; en dat Hy deur Josef van Arimathéa en deur Nikodémus begrawe is, hfst. 19. Dat Hy op die derde dag weer opgestaan het uit die dood, wat eers deur twee engele aan Maria Magdaléna bekendgemaak is en direk daarna deur CHRISTUS self, deur haar aan te spreek; so ook in die aand aan die ander dissipels, waar Thomas nie by was nie, wat dit nie kon glo nie, en agt dae daarna aan hulle en aan Thomas, wat sy sy voel en glo, hfst. 20. Dat Hy Hom nog ’n keer aan sy dissipels openbaar terwyl hulle visvang by die see van Tibérias, waar Hy Petrus in sy amp herstel en sy uitgang uit die lewe aan hom vooruit aankondig; en daarmee sluit Johannes sy evangeliese geskiedenis af, hfst. 21.